HHmnnn! (Of, ‘Julle praat snert’)

[Die artikel God se wette, God se volk het hier betrekking.]

HHmnnn!  Die Vader se wette/instruksies is vervul/aan kruis vasgespyker/nie meer van toepassing en deur sy “seun” as onnodig bestempel?

Mense, julle het ‘n “helse” “surprise” wat op julle wag ! Die ware Messias waarsku IN DIE “NUWE TESTAMENT” dat aan die einde van dae daarop gelet moet word om NIE DIE SABBAT TE OORTREE wanneer daar berge toe gevlug word ! Watter Sabbat? Wel toe hy die aarde bewandel het was daar net die 7dag Sabbat !  Handelinge 15 word dit deur al die appostels/dissipels besluit dat hulle wat hulle by die Vader se volk wil aansluit, moet op die Sabbat na die Sinagoge gaan om “Moses”/eerste 5 boeke aan te leer!  Hoe dink julle is Rut toegelaat om by die Volk aan te sluit?  Kon sy maar haar Moabittiese/heidense wette saamsleep die volk in?

Mense, julle kerk bagasie is besig om julle oë geblind te hou!  Kom uit haar uit en moenie terugkyk soos Lot se vrou nie.

Jou geloof word gedemonstreer met jou werke!  Hoe anders sal ons ‘n Christen kan uitken als om hom/haar op sondag of 25 desember dop te hou?

Jou werke en woorde gaan jou oordeel, so wees versigtig wat jy swart op wit neerskryf!

Groete
Rob

 

Hallo Rob

Dit maak nie gewoonlik vir gesonde gesprek om mense sommer so uit die staanspoor met die hel te dreig nie. Maar, ons was al voorheen in gesprek en ek jou toe al op jou swak gespreksvaardighede gewys. Lyk my niks het sedertdien verander nie; eintlik verdien jy daarom nie ʼn reaksie nie…

Jy verwys na Handelinge 15 en spesifiek na vers 21 as jy sê dat “dit deur al die appostels/dissipels besluit dat hulle wat hulle by die Vader se volk wil aansluit, moet op die Sabbat na die Sinagoge gaan om “Moses”/eerste 5 boeke aan te leer!” Nou, die feit dat jy dink dat dit is waarop die apostels besluit het (snaaks genoeg noem hulle niks daarvan in vers 28-29 toe hulle hul brief opgestel het nie) wys hoe bevooroordeeld jy werklik is en hoe jy bloot lees wat jy graag wil lees.

Jy vra hoe ʼn mens ʼn Christen kan uitken? ʼn Christen word gekenmerk as iemand wat die vrug van die Gees dra (sien Gal. 5:13-26 en Kol. 3:12-17), omdat hulle deur die Gees nuut gemaak is toe hulle deur die genade van die Here redding deur geloof ontvang het en hul harte gereinig is (sien weer die einste kerkvergadering van Handelinge 15 en spesifiek verse 9-11, sien ook Romeine 10:12-13). Ek sien nêrens dat die apostels die onderhouding van die Sabbat of enige ander Joodse wet, soos die besnydenis of enige ander wet, as voorwaarde stel om gered te word nie.

Jy maak dus ʼn karikatuur van wat dit beteken om ʼn Christen te wees! ʼn Christen word gekenmerk deur wat hulle elke dag doen en sê, en nie deur hulle bloot op ʼn Sondag of Kersdag dop te hou nie.

Verder, die manier waarop nie-Jode dus as deel van God se volk gereken word, en God self het bepaal hoe dit gebeur (sien Hand. 15:14, sien ook Gal. 3:29), is nie deur êrens aan te sluit nie soos jy verkeerdelik dink nie, maar deur geloof gereinig te word. Of dink jy die apostels was verkeerd met hul gevolgtrekking in Handelinge 15:9-11? Of Paulus in Romeine 10:11-13?

Maar as hulle reg was, waarom dreig jy my dan met ʼn “helse surprise”?

Miskien moet jy vir ʼn slag jou eie motiewe goed ondersoek en vra of jy werklik ʼn Geesvervulde gesindheid openbaar en of jy nie maar bloot uit selfgeregtigheid oral op die internet kommentaar lewer nie. Dalk moet jy dus eerder jou eie woorde ter harte neem: Jou werke en woorde gaan jou oordeel.

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.