Opstanding en opwekking

Goeiedag

Ek het so pas op u webwerf afgekom en sal dit graag nog rustig wil deurlees aangesien ek dit as ‘n baie interessante onderwerp beskou. Ek het egter een groot vraag waarmee ek al lankal worstel en ek merk u verwys gereeld daarna. Dit is die vraag of Jesus opgestaan het en of Hy opgewek was. Natuurlik twee verskillende aksies met twee verskillende implikasies, of nie regtig nie? Die geloofsbelydenisse verwys na opstanding, die NT verwys egter spesifieke grootliks na opwekking. Kan u my dalk voorsien met die antwoord?

Winkelsmidt

Hallo Winkelsmidt

Dankie vir jou skrywe. Ek antwoord graag jou vraag.

Jy is inderdaad korrek dat daar ’n onderskeid te tref is tussen ‘opstanding’ en ‘opwekking’, maar die verband tussen die twee terme kan bloot verstaan word as twee kante van dieselfde muntstuk – m.a.w Jesus kon ‘opstaan’ omdat God Hom ‘opgewek’ het.

Jy is ook heeltemal korrek deur op te merk dat die Nuwe Testament baie sterk klem plaas op die teologiese feit dat dit God (die Vader) was wat Jesus uit die dood opgewek het. Tog word daar wel verskeie kere in die Nuwe Testamentiese teks self verwys na Jesus wat ‘opgestaan’ het (sien o.a. Matt 20:19, 28:6-7, Mark 16:6, Luk 24:6, Joh 21:14, Hand 1:21, Hand 2:31, Hand 4:33, Hand 10:41, Hand 17:18, Hand 26:23, Rom 14:9, Fil 3:10, 1 Tess 4:14, 1 Pet 3:21). Hierdie verwysings na Jesus wat ‘opgestaan’ het, is bedoel as ‘n biologiese, fisiese feit, m.a.w. om aan te dui dat Jesus dood was, maar weer lewend geword het (sien byvoorbeeld die duidelike kontras tussen Jesus wat dood was, maar weer lewend geword het in gedeeltes soos Hand 1:3, Rom 14:9 en ook geïmpliseer in gedeeltes soos Hand 10: 41, 1 Tess 4:14 en Heb 13:20.)

Dit is dus korrek om te sê, beide dat Jesus opgestaan het en dat God Hom opgewek het. Laat weet gerus of my verduideliking sin maak en of daar iets anders is waarmee ek van hulp kan wees.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.