My probleme met die Christelike geloof

Hallo Udo

Ek het hele paar probleme met seker idees in die Christelike geloof. Sommige daarvan is die volgende:

  • Wat het Jesus eintlik bedoel toe hy gesê het hy is God? Is daar nie ‘n ooreenkoms met ‘n Boeddhis wat sê hy is ‘enlightened’ nie? Is dit nie moontlik om dit as volg te interpreteer nie: Jesus sê, “Ek is God” (kom ons noem dit enlightment) en ook sê hy, “Ek is in jou.” Kon hy bedoel het dat hy die pad na ‘enlightment’ verstaan en dat elkeen van ons die potensiaal het om ‘enlightened’ te wees, dat ons almal dus Jesusse kan wees en dat hy wou kom wys hoe dit gedoen kan word. Jesus is die pad na God = Jesus is die pad na enlightment. M.a.w. as jy ‘n voorbeeld soek – kyk na Jesus.
  • Nog ʼn probleem. Kan ons God regtig definieer? Sodra jy God vir my begin definieer dan raak ek skepties, want God se grootheid verloor dan sy onbegryplike omvang.
  • En daarom het ek ook ‘n probleem met ALLE georganiseerde godsdienste en gelowe (dit sluit selfs Boeddhisme in): sodra God sê daar is net een manier na Hom toe, dan verloor hy vir my sy onbegryplikheid. Ek kan nie dink dat iets groters homself so kan beperk nie! Ek sê nie hier alle gelowe is ‘reg’ nie. Juis die teendeel – alle georganiseerde gelowe sit dalk die pot mis. Dalk moet elkeen op sy eie by God uitkom.
  • Vir my maak ook die redenasie dat ‘hemel’ en ‘hel’ nou hier is en nie iets wat gebeur na jy dood is nie, baie meer sin. Moenie vir my sê God is bo tyd en ruimte verhewe en dan gee daai einste God vir jou ‘n deadline om by hom uit te kom nie. O, en dan is hy so seer gemaak (menslike eienskap???!!!) dat hy jou VIR EWIG weg van hom wil hê. En sorrie, die redenasie dat mens eintlik gekies het om daar te wees – jy wou daar wees, klink vir my na iets wat iemand uitgedink het wat nie die antwoord weet nie. Is daar ‘n teksvers wat dit sê? Waar kom dit vandaan? Selfs die idee van ʼn ‘opstanding’ maak vir my meer sin as dit.

Ek hoor graag van jou.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek wissel graag met jou ʼn paar gedagtes oor wat jy geskryf het:

Wat het Jesus eintlik bedoel toe hy gesê het hy is God? Is daar nie ‘n ooreenkoms met ‘n Boeddhis wat sê hy is ‘enlightened’ nie? Is dit nie moontlik om te dit as volg te interpreteer nie: Jesus sê ek is God (kom ons noem dit enlightment) en ook sê hy, “Ek is in jou.” Kon hy bedoel het dat hy die pad na ‘enlightment’ verstaan en dat elkeen van ons die potensiaal het om ‘enlightened’ te wees, dat ons almal dus Jesusse kan wees en dat hy wou kom wys hoe dit gedoen kan word. Jesus is die pad na God = Jesus is die pad na enlightment. M.a.w. as jy ‘n voorbeeld soek – kyk na Jesus.

Om die talle verwysing te verstaan oor Jesus wat op sy Goddelike selfverstaan dui, is dit nodig om dit binne die konteks van die Joodse geloof van daardie tyd te verstaan. Dit is die rede waarom Jesus, as gelowige Joodse man, nêrens op ‘n blatante manier van homself sê, “Ek is God” nie.

Jesus was sensitief vir die kultuur en monoteïstiese godsdiens waarvan hy deel was en so ‘n direkte stelling sou onmiddellik deur die Godvresende Jode verwerp word. Maar Jesus het ‘n bepaalde missie gehad wat op die regte tyd in volvoering moes gaan. Sy sondelose lewe, die gelykenisse wat hy vertel het, sy ongekende outoriteit oor die Wet, sy wonderwerke, sy indirekte vereenselwiging met die Vader – dit alles was subtiele maniere waarop Jesus homself geleidelik (in die laaste driejaar van sy lewe) aan sy mede-Jode geopenbaar het. Hiervolgens kon sommige byvoorbeeld nie anders as om hom as iemand te erken wat waardig was om aanbid te word nie – ‘n daad wat in die Joodse godsdienstige konteks slegs vir God gereserveer is. Ander weer, het uiteindelik ook tot die konklusie gekom dat hy homself aan God gelykgestel het, en daarom wou hulle hom doodmaak (Markus 14:64) – in die Joodse godsdienstige konteks die straf vir godslastering!

So, die vraag is nie in die eerste plek hoe ons Jesus se identiteit vandag moet verstaan nie (of op enige ander tyd in die geskiedenis nie), maar die belangrikste vraag is hoe Jesus se tydsgenote hom verstaan het. Wat het hulle van hom gedink en gesê? En hoe het dit sin gemaak van wat dit beteken het om ‘n Joodse man in eerste eeuse Palestina te wees? Daarom is begrippe soos “enlightenment” hier eintlik van nul en geener waarde, want dit was glad nie deel van die Joodse verstaan en praat oor God nie. (Tensy iemand natuurlik wil beweer dat Jesus eintlik ‘n closet-Buddhist was!) Die punt is dat mense Jesus al op allerlei maniere probeer dekonstrueer het (en daar is soveel verskillende dekonstruksies van Jesus as wat daar verskillende pogings is om by die “werklike” historiese Jesus te probeer uitkom), maar nie al hierdie pogings maak eers naastenby sin van die kulturele konteks waarbinne Jesus geleef het nie.

Nog ʼn probleem. Kan ons God regtig definieer? Sodra jy God vir my begin definieer dan raak ek skepties, want God se grootheid verloor dan sy onbegryplike omvang.

Hier is twee gevare waarvoor ‘n mens moet ligloop: Die een is om te dink dat ons God op so ‘n manier kan definieer dat ons Hom heeltemal uitgepluis het. Die ander gevaar is om bepaalde idees oor God te verwerp omdat ons sonder goeie rede besluit het dat dit nie van Hom kan waar wees nie, want dit veronderstel dat ons wel baie spesifieke kennis oor God het om te kan weet dat dit wat ons ontken, nie van God waar is nie (m.a.w. ‘n mens verwerp iets omdat dit nie aan ‘n sekere standaard voldoen nie). Om dus te sê dat God groter is as wat ons ten volle met ons menslike verstand kan begryp, is grootliks waar van byna al die eienskappe wat in klassieke Christelike teïsme aan God behoort. Sodra jy egter een van hierdie eienskappe van God (in die tradisionele verstaan van God) wil ontken omdat jy dink dat God groter as daardie eienskap is, dan veronderstel dit dat jy spesifieke kennis dra van wat daardie “groter” eienskap is, want anders praat jy eintlik oor iets waarvan jy niks weet nie. Verder moet jy ook goeie redes kan gee vir waarom daardie eienskap aan God sou behoort.

Ek dink egter dis redelik om bepaalde afleidings oor God (en sy betrokkenheid in die wêreld) uit die beskikbare getuienis te maak (soos God se openbaring van Homself in die Bybel en in die skepping) en nog steeds nederig te wees oor die volle omvang en implikasies daarvan.

En daarom het ek ook ‘n probleem met ALLE georganiseerde godsdienste en gelowe (dit sluit selfs Boeddhisme in): sodra God sê daar is net een manier na Hom toe, dan verloor hy vir my sy onbegryplikheid. Ek kan nie dink dat iets groters homself so kan beperk nie! Ek sê nie hier alle gelowe is ‘reg’ nie. Juis die teendeel – alle georganiseerde gelowe sit dalk die pot mis. Dalk moet elkeen op sy eie by God uitkom.

Ek wil graag drie punte hier aanspreek. Eerstens is daar absoluut geen logiese rede waarom ‘n God wat bepaal het dat daar “net een manier na Hom toe” is, op ‘n beperking van God dui nie. Hoekom kan God nie self bepaal dat daar net een manier na Hom is nie? Miskien kon God ‘n klomp maniere gekies het, maar om te sê dat God nie net één manier kon kies nie, is self ook ‘n beperking wat dan van God sou geld.

Tweedens dink ek dat wat baie mense eintlik wil sê met die idee van “verskillende maniere na God” is dat dit onregverdig is om aan God op ‘n spesifieke manier te dink, want mense dink verskillend oor God en niemand kan sê dat hy/sy weet wie of wat God werklik is nie. Die onsamehangendheid van hierdie soort uitspraak verdien om uitgelig te word.

‘n Mens kan nie regtig sinvol van “verskillende maniere na God” praat, as jy nie eers verduidelik wat jy met die woord “God” bedoel nie. Maar as niemand regtig weet wie of wat God werklik is nie, dan maak dit ook nie sin om te praat van “verskillende maniere na” so ‘n vae ongedefinieerde “iets” nie. Die feit is egter dat mense dikwels wel ‘n baie spesifieke en verskillende verstaan het van wie of wat God is. Maar ongeag of daar goeie redes is om in die bestaan van ‘n spesifieke soort God te kan glo, is dit tog logies om te dink dat so ‘n God ‘n spesifieke karakter het. Die implikasie is egter dat sodra God ‘n bepaalde identiteit het, dan gaan so ‘n identiteit ‘n bepalende faktor wees in hoe daar by so ‘n God uitgekom kan word (bv. as God ‘n persoon is en onafhanklik van sy skepping bestaan, dan is dit redelik om te verwag dat so ‘n God anders benader sal word as wanneer God gedefinieer word, soos Boeddhisme doen, i.t.v. alles wat bestaan, bv., die heelal is God). Die punt is dit: Wie God is bepaal hoe mense tot so ‘n God in verhouding staan en daarom kan jy niemand vóóraf besluit dat daar verskillende maniere na God is nie.

Derdens dink ek daar bestaan ‘n wanpersepsie by baie mense in dat hulle dink dat om te sê, “Daar is slegs een manier na God,” beteken dat sekere mense daarvan weerhou word om by God uit te kom. Want is die implikasie dan nie dat as iemand nie daardie manier volg nie, dan gaan daardie persoon nie by God uitkom nie? En hoe onverdraagsaam is dit nie tog nie! Baie mense verstaan die Christelike geloof as ‘n verdoemende godsdiens waar God mense hel toe stuur bloot omdat hulle nie die regte godsdiens aangehang het en die regte dinge (Christelike dogma) oor God geglo het nie.

Hierdie siening is egter ‘n verwronge voorstelling van die boodskap van die Christelike geloof. Wat is die boodskap van Bybel soos die ortodokse Christelike geloof dit nog altyd verstaan het?

Wel, die Christelike verduideliking begin by ‘n God van liefde, ‘n God wat wil hê dat alle mense Hom sal leer ken. Hierdie “ken” moet egter nie bloot verstaan word as kennis van/oor God nie, maar dui op ‘n verhouding met God. Die Christelike geloof verduidelik verder dat niemand outomaties in ‘n verhouding met God staan nie, inteendeel, dat almal van God vervreem is vanweë hul sonde. Ons situasie is van so ‘n aard dat ons sonde dit vir ons onmoontlik maak om met ‘n Heilige God in verhouding te staan. M.a.w. maak nie saak hoeveel goeie dinge ons probeer doen om God te beïndruk nie, die sonde wat deel is van wie ons is, verhinder eenvoudig ‘n verhouding met God. God laat die mens egter nie gestrand in sy onvermoë nie, maar neem self die inisiatief, in die persoon van Jesus, om met die sonde af te reken wat mense verhinder tot ‘n verhouding met Hom. Die groot teologiese waarheid van die Bybel, die kernboodskap daarvan, is dat Jesus vir mense se sonde aan die kruis gesterf het (hy het dit vergewe, weggeneem, die straf daarvoor gedra – alles pogings om iets te verduidelik van die misterie agter Jesus se dood aan die kruis) sodat die mens toegang kan hê tot ‘n verhouding met God. ‘n Belangrike deel van hierdie boodskap is dat ‘n mens toegang kan hê tot ‘n verhouding met God op grond van Jesus se dood vir ons sonde. Dit beteken dat niemand iets uit hul eie kan doen om in ‘n verhouding met God te tree nie, maar dat so ‘n verhouding in geloof begin op grond van wat God self in Sy genade vir ons moontlik gemaak het.

As bogenoemde waar is, dan het God op ‘n bepaalde moment in die menslike geskiedenis iets baie spesifiek gedoen om dit vir mense moontlik te maak om in ‘n verhouding met God te kan tree. Niks hieraan is eksklusief asof ‘n verhouding met God net vir sekere mense toeganklik is nie, maar dit beteken ook nie so dat almal regtig ‘n verhouding met die God wat werklik bestaan, begeer nie.

Die belangrike vraag wat egter wel gevra word is hoe ‘n mens in ‘n verhouding met God tree. M.a.w. hoeveel moet iemand van daardie spesifieke moment in die geskiedenis (van Jesus se kruisdood vir die vergewing van hulle sonde) weet, verstaan en aanvaar voordat daar van hulle gesê kan word dat hulle werklik in ‘n verhouding met God staan? Of anders gestel, is die Christelike aanspraak dan nie dat as die boodskap van God se genade en van versoening met God, nie by mense uitkom nie, dan kan hulle nie daardie boodskap aanvaar nie en kan hulle dus nie in ‘n verhouding met God tree nie. Maak hierdie gedagte dan nie inderdaad die Christelike geloof baie eng en eksklusief sodat slegs ‘n baie beperkte aantal mense wat die regte boodskap hoor, en dit ook op die regte manier verstaan om dit dan te kan aanvaar, in ‘n verhouding met God kan tree nie?

Daar is verskillende maniere waarop Christene hierdie vrae beantwoord. Een antwoord is dat God die wêreld so geskep het dat alle mense ten minste iets van Hom kan weet en dat die implikasie hiervan is dat God homself toenemend aan mense sal openbaar in die mate waarop hulle positief reageer op die openbaring wat hulle reeds ontvang het. Sodoende kan iemand tot bepaalde kennis van God kom in die mate waartoe God homself aan hulle geopenbaar het. Die moontlikheid word hiermee dus nie uitgesluit dat iemand selfs in ʼn verhouding met God kan staan, sonder om eksplisiete kennis te dra van wat so ʼn verhouding moontlik gemaak het nie, naamlik Jesus se kruisdood vir die vergewing van hulle sonde (dink maar aan die Ou Testamentiese gelowiges wat nie eksplisiete kennis van Jesus gehad het nie). Alternatiewelik kan God dit ook so bewerkstellig, omdat hy alwetend is, dat almal wat hy weet positief op sy algemene openbaring sal reageer, ook die kans gegun sal word om op sy spesifieke openbaring in en deur Jesus, te reageer. Die implikasie hier is dat dit die geval kan wees dat al diegene wat nooit eksplisiete kennis van God se verlossingsboodskap ontvang het nie, en dus nie daarop kon reageer nie, terselfdertyd ook diegene is wat nie positief gereageer het op God se algemene openbaring van homself nie. Sulke mense het gewys dat hulle eenvoudig nie belangstel in God nie. (Sien ook Wat van diegene wat nie die Evangelie hoor nie?)

Vir my maak ook die redenasie dat ‘hemel’ en ‘hel’ nou hier is en nie iets wat gebeur na jy dood is nie, baie meer sin. Moenie vir my sê God is bo tyd en ruimte verhewe en dan gee daai einste God vir jou ‘n deadline om by hom uit te kom nie. O, en dan is hy so seer gemaak (menslike eienskap???!!!) dat hy jou VIR EWIG weg van hom wil hê. En sorrie, die redenasie dat mens eintlik gekies het om daar te wees – jy wou daar wees, klink vir my na iets wat iemand uitgedink het wat nie die antwoord weet nie. Is daar ‘n teksvers wat dit sê? Waar kom dit vandaan? Selfs die idee van ʼn ‘opstanding’ maak vir my meer sin as dit.

Die idee van die hemel en die hel kry slegs ware betekenis in die verhoudingskonteks waarin God en mens tot mekaar staan. Dit is daarom nie maar net ‘n verwysing na pyn en plesier/geluk in die hier en nou nie. God het die mens gemaak om in verhouding met Hom te staan. Tog word geen mens gedwing tot so ‘n verhouding met God nie (daar bestaan nie iets soos “geforseerde liefde” nie). Wie dus nie ‘n verhouding met God begeer nie, begeer by implikasie iets of êrens waar hulle werklik vry is van God. So ‘n plek/toestand word die hel genoem, hoe dit ookal mag wees om daar te wees.

God begeer dus nie dat enigiemand in die hel moet wees nie en hy stuur iemand ook nie daarheen omdat hulle nie ‘n deadline betyds kon nakom nie. Die totaliteit van iemand se lewe is die bewys of hulle ‘n verhouding met God begeer het of nie. Daar is geen rede om te dink dat so ‘n begeerte skielik gaan verander (of dat iemand skielik sy afhanklikheid van God gaan besef) net omdat iemand na sy dood met ‘n skok ontdek dat die hel toe al die tyd wel ‘n realiteit is nie. ‘n Mens het tog nie ‘n verhouding met God omdat jy bang is vir die hel nie!

Dis ook heeltemal korrek dat niemand spesifiek kies om hel toe te gaan nie. Alle mense wil graag gelukkig wees en niemand begeer tog om in ‘n situasie te wees waar hulle nie gelukkig is nie. Baie mense dink egter aan die hemel bloot as ‘n plek waar hulle nooit weer ongelukkig sal wees nie, sonder om ook te besef dat daar niks in die hemel kan wees wat hulle gelukkig kan maak as hulle nie gelukkig is in ‘n verhouding met God nie. Die hemel is ‘n plek waar mense God se teenwoordigheid ten volle sal ervaar. Die idee van hierdie teenwoordigheid van God wat met ‘n verhouding gepaardgaan, is egter skynbaar vir sommige mense ‘n groter afgryse as die idee van ‘n bestaan sonder God (naamlik die hel) (C.S. Lewis in sy boek The Great Divorce maak hierdie punt uitstekend.)

Baie mense neem God kwalik dat daar hoegenaamd iets so onverbiddelik soos die hel mag bestaan. Maar ‘n waarskuwing oor ‘n realiteit soos die hel (en Jesus het meer as enigiemand anders oor die hel gepraat), dien hoofsaaklik as versoberende toeligting en is ‘n bewys van hoe God mense se verborge begeertes eerbiedig (want nie alle mense begeer ‘n verhouding met God nie). Hoe kan God dus moreel aanspreeklik gehou word as hy mense waarsku teen die hel en dan nog terselfdertyd verduidelik hoe vermybaar dit is. Dis soos om iemand kwalik te neem omdat jy in ‘n gat geval het, nadat hy vir jou gesê het dat daar ‘n gat is én waar daar ‘n ander pad is sonder gate! (Sien ook die volgende: Hoe kan God mense maak wat Hy weet hel toe gaan?)

Wel, hiermee ʼn paar van my gedagtes oor die sake wat jy noem.

Beste groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*