ʼn Kritiese evaluering (ter wille van ʼn beter samelewing)

NB – Apostaat skryf in sy artikel, Vryheid en spraak, hoe hy dink dat dit ʼn goeie idee is dat mense mekaar se idees kan bevraagteken en kritiseer. Sulke vryheid, sê hy, is immers die essensie van vryheid van spraak. Daar is egter ʼn belangrike beperking op sulke vryheid, laat Apostaat my egter onlangs weet: Jy tree onwettig op deur my volledig aan te haal wanneer jy my idees in jou skrywes kritiseer. Ter wille van die letter van die wet en skynbaar omdat Apostaat nie die gees daarvan verstaan nie en daarom vir een of ander rede bedreig voel, is die volgende artikel dus ʼn wysiging van die oorspronklike, in ʼn poging om my direkte aanhalings uit Apostaat se skrywes tot ‘n minimum te beperk.

Apostaat verwys onlangs op sy blog na iemand se opmerking êrens oor hoe die meeste van die minderheid Christene in Australië, blykbaar te skaam is om oor hulle geloof te praat. Vir Apostaat is dit ʼn aanduiding dat ten minste sommige Christene nie gesprek wil voer nie. Hierdie Christene sou ook skynbaar “dink dat hulle uitsprake oor geloof, hulle gedrag i.t.v godsdiens en hulle idees oor die wêreld nie mag bevraagteken word nie.” Maar uiteindelik, so vermoed Apostaat, swyg hierdie Christene maar liewer omdat hulle nie hulle bewerings kan staaf nie en is dit waarskynlik ook beter so. As hulle hul ongegronde idees vir hulleself hou, dan versprei dit immers nie na ander nie. Soos ʼn virus en nadelig vir die gesondheid – of so kry ʼn mens die indruk.

Dit kan natuurlik van sommige aanhangers van byna enige denkrigting gesê word dat hulle dit nie kan hanteer dat hulle idees oor die wêreld bevraagteken word nie. Dis nie ʼn Christelike verskynsel of selfs eers ʼn godsdienstige verskynsel nie. Die politiek, maak nie saak waar jy kyk nie, is en was nog altyd vrot van voorbeelde hiervan. Maar Apostaat noem homself nie verniet ʼn “eks-christen” nie.

Apostaat is egter korrek as hy sê dat baie Christene nie weet hoe om sekere aspekte van die Christelike geloof te staaf nie. Dis inderdaad nie iets vir enige Christen om op te roem nie. Daar is egter ʼn noemenswaardige rede vir waarom sommige Christene onkundig mag voorkom, maar waar dit nie die waarheid van die Christelike geloof as sulks ondermyn nie. Beskou die volgende denkoefening.

Verbeel jou jy ontmoet ʼn persoon saam met wie jy ʼn wonderlike tyd beleef, ʼn tyd van relatief korte duurte. Jy word egter so deur hierdie persoon geïnspireer dat jy nie kan wag om ander van hom of haar te vertel nie, van alles wat jy geleer het en waartoe jy geïnspireer is. Veronderstel nou jy kry die kans om iemand later te vertel en nadat hulle aandagtig na jou geluister het, reageer hulle met ʼn paar vrae:

Wat is hierdie persoon se kwalifikasies? Waar woon en werk hierdie persoon? Wat is hul agtergrond? Hoe weet jy dat dit regtig so is? Wie anders ken hierdie persoon? Hoe ken hulle hierdie persoon? Hoe weet jy dat daar nie dalk iets van hierdie persoon is wat jy nie weet nie, maar behóórt te weet nie?

Is hierdie vrae belangrik? Sekerlik, en ʼn mens sal dit oor die langtermyn wil uitvind, maar selfs al het jy op daardie oomblik géén antwoord op énige van hierdie vrae nie, beteken dit nie dat jou eerstehandse ervaring en indrukke van hierdie persoon en wat hy of sy gesê het, daarom vals was of op onkunde gebaseer is nie. Jy was ook heeltemal geregverdig gewees om jou ontmoeting met, indrukke van, en gevoelens oor hierdie persoon met iemand anders te deel.

Hierdie denkoefening is natuurlike ʼn baie direkte analogie van die Christelike geloof. Die kern van die Christelike geloof het te doen met die ontmoeting met ʼn Persoon. Dit is vanuit hul lewensveranderende ontmoeting met hierdie Persoon, en nie omdat hulle daar en dan ʼn lys vrae kan beantwoord nie, dat Christene dikwels gretig is om hul ervaring met ander te deel. En ja, onder hierdie omstandighede gebeur dit gereeld dat wanneer Christene uitgevra word oor spesifieke aspekte van kognitiewe belang, dan sukkel hulle met antwoorde. Maar dit beteken nie dat die eksperiënsiële aspek van iemand se belewenis van en verhouding met God, en die kognitiewe aspekte van hul geloofsoortuigings, daarom per definisie in opposisie van mekaar staan nie. Die uitdaging vir Christene is inderdaad om in beide te groei, hoe primêr en oorweldigend wonderlik die verhoudingsaspek ook al is.

Nou, in die gees daarvan om die samelewing ʼn beter plek te probeer maak, soos waarvoor Apostaat pleit, beoefen ek my vryheid en spraak vir ʼn kritiese evaluering van Apostaat se idees in sy artikel, Onbeskryflik Groot.

In filosofiese diskoers word die moontlikheid van God se bestaan nie maar net uit die duim gesuig nie. Om na ‘God’ te verwys is nie maar net om te spekuleer oor of een of ander verbeelde entiteit iewers daar “buite” sou bestaan nie, soos Apostaat skynbaar dink nie. Dis juis omdat filosowe nadink oor die bestaan, oorsprong en aard van die heelal dat hulle tot bepaalde gevolgtrekkings kom oor die beste verduideliking vir hierdie aspekte van die heelal (sien hier, hier, en hier vir baie bondige verduidelikings).

God is nie maar net een of ander irrelevante objek naas die waarneembare heelal wat ons net nog nie ontdek het nie. As God die beste verduideliking is vir waarom daar in die eerste plek iets soos ʼn heelal is of vir waarom die heelal ʼn begin gehad het, dan is God per definisie nie die tipe entiteit wat empiries waarneembaar is nie. Die gedagte dat God se bestaan iets is “wat ons nie huidiglik kan uitvind nie” berus op ʼn verkeerde aanname (dat God ‘n materiële wese is) en die feit dat “ons nooit meer van die heelal te sien sal kry as daardie 91 miljard ligjare nie” is dus totaal irrelevant wanneer daar oor die aard en bestaan van God nagedink word.

As God ʼn skepperwese is, en as hy verantwoordelik is vir die bestaan en ontstaan van tyd en ruimte, dan kan God nie self deel wees van die sisteem wat hy geskep het nie. Dis in hierdie sin dat God van “buite” af moes geskep het. Hierdie gedagte verwys egter nie na ʼn plek êrens buite die heelal nie, maar bloot na die feit dat die heelal vir ‘n bestaan van God afhanklik sou wees.

Daar is ʼn woord vir die idee dat God “van buite” geskep het. Teoloë en filosowe praat van God as transendent, d.i. God is nie vasgevang in sy skepping of ʼn geskape deel daarvan nie (alhoewel hy alles deur sy immanensie onderhou juis omdat hy die skepper daarvan is). Om te verwys na ‘n “buitestaander-god” is glad nie ʼn verbetering op hierdie begrip nie en skep bloot verwarring. Dis ʼn poging om God eintlik by voorbaat te karakteriseer as ʼn afsydige, belangelose tipe God (‘n deïstiese God) wat geskep het maar verder niks met sy skepping te doen het of te doen wil hê nie.

Maar waarom met só ʼn aanname begin?

Waarom sal ʼn Wese wat ʼn heelal kan skep, nie ook by magte kon wees om belang te hê by mense as deel van daardie heelal nie? Waarom kan ʼn Skepper-God se intensie nie wees om juis wesens soos mense te skep wat ʼn verhouding met hom kan hê nie? En waarom kon God hierdie doel nie bereik (en dit hoef nie die enigste doel te wees vir ʼn skepping nie) deur ʼn heelal te skep wat volgens natuurlike prosesse funksioneer en sodoende oor 13,8 miljard jaar kon ontwikkel en ontvou totdat organismes soos mense uiteindelik verskyn nie?

Apostaat dink egter dat die idee van ‘n ‘buitestaander-god’ wat sal “omgee or (sic) ons varkvleis eet of Sondag kerk toe gaan, dat hy sal luister, in enige betekenisvolle sin, wanneer ons bid, dat hy ons individueel sal veroordeel vir seks en onreine gedagtes” “duidelik absurd” is.

Ja,  ‘n ‘buitestaander-god’ mag dalk nie omgee nie. Maar weereens, waarom hierdie definisie van God aanvaar? As God se algoeie natuur deel is van die konsep van God en hierdie God die mens geskep het om sy goedheid te ervaar, en as die hoogste goed vir die mens te vinde is in ʼn verhouding met God, dan maak dit tog aan so ʼn God baie saak wat mense doen. Niks absurd hieraan nie.

Om byvoorbeeld te wonder waarom spesifiek Israel verbied was om varkvleis te eet of om, as nog ‘n voorbeeld, klere te dra wat van twee soorte materiaal gemaak is, klink pedanties en arbitrêr. En dit sal bloot onverstaanbaar bly totdat jy die moeite doen om, in die konteks van die Bybelse narratief, te probeer verstaan wie Israel was, wat haar verhouding met God was en wat God se plan vir hierdie Joodse nasie was vroeg in haar ontstaansgeskiedenis.

So ook met ander kwessies. Waarom kom gelowiges op ʼn Sondag of op ander dae byeen? Waarom bid hulle? Waarom sou slegs die huweliksverhouding geskik wees vir seksuele intimiteit? Waarom is onreine gedagtes problematies? As die antwoorde op hierdie vrae juis aanduidings is van dinge wat ʼn verhouding met God mag bevorder of verhinder, dan is dit tog allermins absurd dat God daaroor besorg is.

Terloops, hoe spreek die feit dat God verantwoordelik is vir die reëlmatige funksionering van die natuurwette, tot iets soos die bestaan van morele waarhede, soos Apostaat skynbaar dink? Dit volg nie. Wat wel die geval is, is dat as ʼn algoeie God nie bestaan nie, en as slegs die fisiese werklikheid bestaan wat volgens beskryfbare reëlmaat funksioneer, dan is ons as mense inderdaad ‘geprogrammeer’ om bloot ons gene te laat voortleef en is objektiewe morele waardes en verpligtinge ʼn illusie. Bepaalde gedrag is dan nie objektief reg of verkeerd nie (d.i., reg of verkeerd, goed of sleg, ongeag wat enigiemand daaroor mag dink) – dis bloot ongewens óf verkieslik, relatief tot wat op daardie oomblik as ʼn bedreiging of ʼn bevordering van ʼn bepaalde groep se spesifieke belange beskou word.

Onder laasgenoemde omstandighede, wat is die morele verskil tussen een mal ou met ʼn arsenaal kernwapens wat more ons planeet opblaas, in vergelyking met die feit dat ons planeet oor vyf miljard jaar in die hittedood van die heelal sal vergaan? Wat gebeur, gebeur maar net, of dit nou vroeër of later is, dan nie?

Apostaat dink verder dat dit is omdat materie altyd en orals dieselfde reëls gehoorsaam wat van wonderwerke ʼn illusie maak nie. Dis egter foutief. Dis wanneer iemand dink dat die materiële werklikheid ʼn absolute en geslote sisteem verteenwoordig, dat die idee van wonderwerke problematies word.

Maar dis die vraag, is dit nie? Is materie al wat bestaan? Hoe bepaal die wetenskaplike dit? Watter herhaalbare eksperimente of toetsbare resultate demonstreer dit? Trouens, selfs ʼn heel basiese wetenskaplike aanname soos dat “materie altyd en orals dieselfde reëls gehoorsaam” is ʼn baie goeie werkende aanname vir ʼn wetenskaplike metodologie wat resultate lewer, maar dis ‘n aanname nietemin, onbewysbaar deur die wetenskaplike metodologie self.

Die punt is dat as ʼn Skepper-God bestaan, dan is die materiële werklikheid nie ʼn absolute en geslote sisteem waarop daar per definisie geen bonatuurlike invloed uitgeoefen kan word nie. Dan is dit eerder waar om te sê dat materie oral en altyd dieselfde reëls gehoorsaam – tensy ʼn eksterne krag ʼn invloed daarop uitoefen. (Dit beantwoord die vraag oor die móóntlikheid van wonderwerke, maar natuurlik nog nie óf en wáár daar wel wonderwerke plaasgevind het nie.)

Maar weereens, wat het die moontlikheid van wonderwerke enigiets met morele gedrag te doen, soos Apostaat weereens suggereer? Om te weet dat iets reg of verkeerd is, of goed of slegs is, word nie bepaal deur hoe materie oral en altyd op dieselfde manier funksioneer nie.

Wat van die klagte oor ʼn “onvolmaakte en arbitrêre morele stelsel”? Vanuit die Christelike perspektief kan die morele stelsel waaraan die mens gebind is, selfs sedert dit in die Wet van Moses (Deut. 6:5, Lev. 19:18) gestalte gekry het, soos volg opgesom word: wees lief vir God en jou naaste soos jouself (Matt 22:37-40). Wat is onvolmaak en arbitrêr hieraan?

Hier is ‘n voorspelling met betrekking tot die aanklag wat ʼn mens gereeld hoor oor die sogenaamde “teenstrydige raad” in die Bybel en “blatante leuens oor alles van die skepping tot die opstanding”: As daar om spesifieke voorbeelde gevra gaan word om hierdie aanklagte te substansieer, dan gaan dit vir enigiemand wat enigiets weet van hermeneutiek, gou duidelik wees hoe simplisties daar met die Bybelse teks gewerk word (soos hierdie ʼn goeie voorbeeld van is).

Dan merk Apostaat op oor hoe God nie in beheer is nie, want elke mens kan dan teen God se wil optree. Om Apostaat se wanpersepsies hier aan te spreek, beskou die volgende vraag: Kan ʼn almagtige God ʼn vierkantige sirkel maak? Iemand wat verstaan wat die verskil is tussen die konsep van ʼn sirkel en dié van ʼn vierkant, sal verstaan waarom die vraag bedrieglik is. Dis soos om te vra: Hoe klink blou? Wel, blou is ʼn kleur en nie ʼn klank nie. ʼn Sirkel is ʼn sirkel en nie iets anders nie. Dit help dus nie om ʼn sinlose kombinasie van woorde te gebruik en dan te dink dat God nie almagtig is of nie in beheer is nie. Dis presies hierdie kwessie wat ter sprake is by die verhouding tussen God se almag en die mens se vrye wil: Kan God ʼn vrye wese skep wat verplig is om sy wil te doen? Merk iemand die sinlose kombinasie van woorde?

Dit bring ons by die Christelike konsep van ‘redding’.  Iemand wat homself eens ʼn Christen genoem het, maar dink dat God bloot ʼn arbitrêre reël opgemaak het (“sommer, want Ek sê so”) om ons te red, het êrens die klok hoor lui maar weet nie waar die bel hang nie.

Waarvan het ons redding nodig? Waarom sal God ons wil red? Waartoe word ons gered? Hoe het dit gebeur dat ons in die eerste plek redding nodig het? As God ons wil red, waarom is hy bevoeg om ons red? En gegewe die spesifieke situasie waarvan ons redding nodig het, hoe sou so ʼn redding verloop?

Daar is ʼn samehangende stel antwoorde op hierdie vrae vanuit ʼn Bybelse perspektief  wat die konsep van redding teologies goed verduidelik (en ja, gebruik gerus jou verstand). Dis slegs iemand wat wys dat hulle die Christelike konsep van redding NIE verstaan nie, wat bogenoemde kan kwytraak. Só ʼn verstaan is soos om die neurosjirurg te adviseer oor hoe hy sy pasiënt met ʼn lewensbedreigende breingewas moet behandel: “Dokter, jy is mos ʼn slim en geleerde man, so jy kan sommer enige prosedure kies om jou pasiënt te red. Die maklikste is om vir hom ʼn goeie dieet en daaglikse oefening voor te skryf. Maak net seker dis ʼn beproefde dieet en biomeganies verantwoordbare oefening!”

Apostaat skryf:

“‘n Verhaal oor ‘n mens wat sterf sodat ander mense kan lewe is heroïes. ‘n Verhaal oor ‘n god wat ‘n heelal skep wat letterlik vir biljoene jare kan bestaan, maar om een of ander rede gee hy om oor hoe mense op een planeet optree, is kleingesind.”

‘n Verhaal van hoe ‘n transendente en selfgenoegsame God die gestalte van ʼn mens aangeneem het om sodoende in die plek van mense te sterf wat in rebellie teen Hom leef en hulle so die geleentheid gun om in ʼn verhouding met Hom herstel te word, is ʼn beskrywing van genade (onbeskryflik groot) – nie van heroïsme nie. ʼn God wat Homself vanuit sy Goddelike natuur daarom nie verhewe geag het (Fil. 2:6-8) om besorg te wees oor nietige morele skepsels soos ons nie (Hy het immers gekies om ons te skep) en ons boonop nooi om in ‘n verhouding van ewige duur met hom te tree, is juis ʼn God wat groot genoeg is om te aanbid. Beslis nie kleingeestig (kleingesind, sic) nie.

Dan laastens. Die populistiese idee dat ʼn Skepper-God so ver buite ons begrip sou wees dat ons niks van hom kan weet nie, klink dalk diepsinnig en vir ander selfs piëtisties, maar dis geen daarvan nie.

Eerstens, om te sê dat God te verhewe bo ons begrip is om iets van hom te weet, is om juis aanspraak te maak om iets van God te weet, naamlik dat ons niks van so ʼn verhewe God kan weet nie. Die vraag is, waar kom sulke kennis vandaan as ʼn mens werklik niks van God kan weet nie?

Tweedens, ons bevind ons in ʼn bepaalde tipe wêreld waaroor ons kan vrae vra, soos oor hoe dit werk, waar dit vandaan kom of waarom dit hoegenaamd bestaan. Sommige van hierdie vrae het te doen met ʼn verstaan van hoe fisiese prosesse werk en waaruit die fisiese realiteit bestaan. Ander vrae het te doen met die toepassing van metafisiese (d.i. verby die fisiese) beginsels om by antwoorde uit te kom. Dis juis in die metafisika, danksy die harde werk van filosowe en teoloë wat ook, nes wetenskaplikes nie tevrede is daarmee dat daar dinge is wat ons nie verstaan nie, waar vrae antwoorde vind wat dui op die realiteit van iets met kenmerke wat tot die konsep van God behoort.

Derdens, as ʼn persoonlike en algoeie skepperwese soos God werklik bestaan, dan is dit nie onmoontlik of selfs verregaande om te dink dat so ʼn God sekere waarhede kon kommunikeer deur homself op spesifieke maniere aan mense te openbaar nie. As veertig verskillende mense oor ʼn tydperk van veertien eeue hulle ervarings van so ‘n openbaarmakende God neergeskryf het (ja, elkeen in hulle eie woorde, op hulle eie manier en elkeen aan hulle eie spesifieke gehoor), dan kan die resultaat seker maar as ʼn “aanmekaargelapte boek” beskryf word, minus die beledigende toon. Dalk eerder ʼn saamgestelde boek, maar nie vir hierdie rede minder van ʼn samehangende openbaring van God self en van sy tydlose boodskap vir die mens nie. Terloops, niemand wat die inhoud van hierdie “aanmekaargelapte boek” al ernstig bestudeer het, hoef genoop te voel om enige wetenskaplike bewyse te ignoreer nie (sien byvoorbeeld hier). Die feit dat sommige dit doen is nie ʼn aanduiding dat ʼn verstaan van die Bybelse boodskap dit van enigiemand vereis nie.

2 Comments

  1. Ja, ek dink die argument dat God so groot en misterieus is dat hy onkenbaar en onpersoonlik moet weess, laat my dink aan wat C.S. Lewis geskryf het in “Mere Christianity”:

    “A good many people nowadays say, “I believe in a God, but not in a personal God.” They feel that the mysterious something which is behind all other things must be more than a person. Now the Christians quite agree. But the Christians are the only people who offer any idea of what a being that is beyond personality could be like. All the other people, though they say that God is beyond per­sonality, really think of Him as something impersonal: that is, as something less than personal. If you are looking for something super ­personal, something more than a person, then it isn’t a question of choosing between the Christian idea and the other ideas. The Christian idea is the only one on the market.

    You know that in space you can move in three ways – to left or right, backwards or forwards, up or down. Every direction is either one of these three or a compromise between them. They are called the three Dimensions. Now notice this. If you’re using only one dimension, you could draw only a straight line. If you’re using two, you could draw a figure: say, a square. And a square is made up of four straight lines. Now a step further. If you have three dimensions, you can then build what we call a solid body: say, a cube – a thing like a dice or a lump of sugar. And a cube is made up of six squares.
    Do you see the point? A world of one dimension would be a world of straight lines. In a two-dimensional world, you still get straight lines, but many lines make one figure. In a three-dimensional world, you still get figures but many figures make one solid body. In other words, as you advance to more real and more complicated levels, you don’t leave behind you the things you found on the simpler levels; you still have them, but combined in new ways – in ways you couldn’t imagine if you knew only the simpler levels.”

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*