Die kwessie van geloof…

Apostaat skryf op sy Facebook-blad (www.facebook.com/Apostaat/): “Eks-christen, nou geloofsvry. Altyd bereid om ander se standpunte in ag te neem. Ek wil graag ‘n gesprek voer oor geloof, kennis en oortuiging. https://apostaat.wordpress.com”

Vervolgens ons gesprek.

 

Hallo Apostaat

Ek het lank geworstel oor of ek hierdie brief vir jou moet skryf, veral omdat ek jou nader en jy nie vir my nie. Daar is ʼn klomp dinge wat ek altyd oorweeg in die voorneme om aan ʼn gesprek – of verder aan ʼn gesprek – deel te neem. ʼn Mens voel mos maar dat jou tyd en energie kosbaar is en die kanse vir suksesvolle gesprekvoering moet maar sover moontlik bereken word. Gesprekke misluk sommer gou wanneer ander jou intensies wanvertolk omdat hulle nie gewoond is aan die kritiese evaluering van idees nie en dan raak dit gou net ʼn moddergooiery. En suksesvolle gesprekke is dikwels harde werk en min mense het die tyd of toewyding wat daarvoor nodig is.

Daar is gewoonlik ʼn paar goed waarna ek oplet in hoe en wat mense sê wat as tekens dien vir die kanse op ‘n suksesvolle gesprek, veral oor die godsdiens. Drie goed wat ek kan uitsonder is anonimiteit, ʼn anti-Christelike agenda en dogmatiese skeptisisme (of fundamentalisme aan die ander kant). Hierdie dinge manifesteer op jou blog in ‘n meerdere of mindere mate, maar ek besef dat daar dalk versagtende omstandighede is. Kom ek verduidelik.

Anonimiteit: Iemand wat sy oortuigings met deurdagte integriteit kan stel en verdedig, hoef nie anoniem te wees nie. Ek verstaan egter die tipe veiligheid wat die versluiering van anonimiteit bied: baie mense sien eenvoudig nie kans vir die moontlike emosionele of sosiale implikasies wat hulle te wagte kan wees deur volle verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle sienings deur hulle identiteit daaraan te koppel nie. Ek verstaan dit en het daarom simpatie met die motivering agter “Apostaat”. In ander gevalle is anonimiteit egter die masker waaragter mense wegkruip sou hulle integriteit bevraagteken word. Daarvoor het niemand respek nie.

ʼn Anti-Christelike agenda: Daar is altyd iets vreemds daaraan wanneer mense meer energie wy aan dit waartéén hulle is, as aan dit waarvóór hulle staan. In die proses van paradigmaverskuiwing is daar natuurlik altyd ʼn fase waarin dit baie belangrik is om duidelikheid te hê oor dit wat verwerp word, dit waarteen jy is. ʼn Mens kan egter gou sien, in die desperaatheid wat daarmee gepaard gaan, as iemand in daardie fase vasgeval het. Vir baie mense word dit dan veel belangriker om elke liewe aspek van die ou paradigma verkeerd te bewys en belaglik te maak as om die deugde van die nuwe paradigma met helderheid en entoesiasme toe te lig. Ongelukkig is dit dan amper onvermydelik dat so ʼn persoon een of ander tyd in die slaggat gaan trap van wanvoorstellings en strooipop-argumente. Dink ek dat jy, as “Apostaat”, in ʼn anti-Christelike agenda vasgeval het? Wel, nee, want ek wil jou die voordeel van die twyfel gee en glo dat jy steeds in die fase is waar dit nodig is om vir jouself uit te klaar waarin jy nie meer glo nie. Die probleem is net dat ʼn mens reeds in sommige van jou artikels ‘n anti-Christelike retoriek opmerk wat met ʼn verantwoordelike verstaan van die Bybel en met ʼn akkurate verstaan van wat die Christelike siening wérklik is, nie veel te doen het nie. Voorbeelde is die volgende:

  • https://apostaat.wordpress.com/2016/02/15/onbeskryflik-groot/ [Red.: sien my reaksie hier]
  • https://apostaat.wordpress.com/2016/03/08/wat-ek-glo [Red.: In verband hiermee, sien my skrywe hier]
  • https://apostaat.wordpress.com/2016/03/07/die-enigste-redder-en-verlosser/
  • https://apostaat.wordpress.com/2016/05/08/watter-vers-het-jou-laat-twyfel/
  • https://apostaat.wordpress.com/2016/06/17/nog-in-die-hemel-nog-op-die-aarde/
  • https://apostaat.wordpress.com/2016/08/07/heilig-heilig-heilig/ (Apostaat, dis byvoorbeeld bitter moeilik om te verstaan waarom iemand wat uit ʼn Christelike milieu kom, sal sê dat Christene oor hulleself dink soos jy veral in hierdie laaste artikel skryf! Sjoe!!) [Red.: sien my reaksie hier]

So, ten spyte van laasgenoemde voorbeelde en omrede jy tog hier en daar ʼn uitnodiging rig (https://apostaat.wordpress.com/2016/02/07/ek-glo-nie/) dat iemand moet sê as hulle anders dink oor iets, gaan ek in goeder trou aanvaar dat jy bloot probeer “om in woorde uit te druk presies hóé [jou] geloof ontrafel het” (https://apostaat.wordpress.com/2016/03/07/die-enigste-redder-en-verlosser/) en dat gesprek tog sinvol kan wees.

Dogmatiese skeptisisme: Iemand wat dogmaties skepties is, of fundamentalisties seker is, stel nie belang in gesprek nie, maar op neer praat en verdagmaking (sien hier). Hierdie lyk darem nie na jou benadering nie. Ek verstaan en aanvaar egter dat jy skepties is, in die sin dat jy ʼn klomp goed bevraagteken. En tog is daar ʼn verskil daarin om vrae te vra waar die inligting wat bekom word tot verdere oorweging dien, en ʼn bevraagtekening van alles op ʼn manier waar geen inligting regtig ʼn regverdige kans staan vir oorweging nie. Tyd sal leer oor hoe jy inligting verwerk en in watter mate jy retoriek inspan om jouself te verduidelik of te verweer.

Terloops, dit moet darem gesê word dat ek baie simpatie het met sommige van jou artikels. Voorbeelde sou die volgende wees:

  • https://apostaat.wordpress.com/2016/04/13/woedend/
  • https://apostaat.wordpress.com/2016/05/22/hopeloos/
  • https://apostaat.wordpress.com/2016/05/02/beplande-protes-by-reason-rally-2016/
  • https://apostaat.wordpress.com/2016/07/14/steven-anderson-en-haatspraak/

Vir nou wil ek graag stilstaan by ʼn spesifieke onderwerp naamlik die kwessie van geloof. Dit is die fokus van bespreking in jou mees onlangse artikel, “Geloof is nie ʼn keuse nie. Eerlikheid is” (https://apostaat.wordpress.com/2016/10/16/geloof-is-nie-n-keuse-nie-eerlikheid-is/), waarvan ek bewus geword het deur die verwysing na ‘n artikel op AntWoord se webblad asook jou artikel, “Wat ek glo” (https://apostaat.wordpress.com/2016/03/08/wat-ek-glo)

Die vraag oor hoe daar verantwoordelik oor die term ‘geloof’ gedink kan word, het ek reeds hier aangespreek. Die punt wat ek probeer maak het is dat deur die woord geloof in verskillende kontekste te gebruik, verskillende dinge kan beteken. Wat sake verder bemoeilik is dat skeptici en selfs gelowiges soms ʼn betekenis aan die woord ‘geloof’ toedig wat geen gronde het nie.

In my laasgenoemde artikel het ek probeer aantoon dat ‘geloof’ op veral twee maniere gebruik word en dat dit nie met mekaar verwar moet word nie. Mense gebruik die woord ‘glo’ of ‘geloof’ dikwels op onduidelike maniere, daarom is dit belangrik om te probeer bepaal of iemand verwys na sy “oortuiging dat iets so is” en of iemand verwys na sy “vertroue in iets”. M.a.w. daar is ʼn verskil tussen “ek glo dat” en “ek glo in”.

Kom ons kyk weer na die opmerking van Kobus Kellerman (https://theplandieplan.wordpress.com/2016/07/26/faith-in-difficult-times/) van hoe geloof in die alledaagse lewe manifesteer: “Ons glo dat as ons die skakelaar aanskakel die ligte sal skyn; as ons die kraan oopdraai, sal die water uitkom…” Jy kritiseer hierdie opmerking om aan te dui dat hier nie sprake is van geloof nie, en sê:

“Om te verwag dat die lig sal skyn wanneer jy die skakelaar druk, of dat daar water sal uitkom wanneer jy die kraan oopdraai, verg nie geloof nie. Dit verg bloot ervaring met skakelaars en krane. En as jy nie seker is nie, kan jy die skakelaar druk of die kraan oopdraai en sien of dit werk. Geen geloof is nodig nie.”

Maar Kellerman se punt was tog nie dat ons nie weet of daar water uitkom as ons krane oopdraai of lig verskyn as ons skakelaars druk nie. Nee, Kellerman wou ʼn baie beskeie punt maak deur daarop te wys dat as ons glo dat water uit krane kom of dat lig verskyn as ons skakelaars druk, dan demonstreer ons aksies ons oortuigings deurdat ons ‘n kraan oopdraai of ‘n skakelaar druk. M.a.w. ons geloofshandeling wys dan dat “ons glo wat ons sê dat ons glo”.

(Net terloops – en niks met Kellerman se punt te doen nie – dit is natuurlik foutief om te dink dat ons ervaring van krane en skakelaars, sou beteken dat ons kan sê: Ek wéét dat hierdie kraan, as ek dit oopdraai, water gaan oplewer. Die verwagting is daar, ja, maar dis geen waarborg nie, want ons ervaring is ook dat krane soms droog loop. Daarom is dit veel beter om wanneer jy voor ʼn spesifieke kraan staan te sê: Ek glo, met ʼn bepaalde mate van sekerheid, gebaseer op my ervaring van krane (miskien selfs van daardie spesifieke kraan) dat as ek hierdie kraan oopdraai, daar sal water uitkom. Maar om te sê dat jy dit wéét (selfs al is jy absoluut seker), is iets wat juis ʼn ervaring met krane jou behoort te verhoed om te doen.)

Ek dink dat ook Johann Aucamp in sy kommentaar aan jou (https://theplandieplan.wordpress.com/2016/07/26/faith-in-difficult-times/#comment-18) ʼn punt wou maak waarmee jy nie behoorlik erns maak nie. As Aucamp sê dat “Om geloof in iets of iemand te hê is ‘n persoonlike keuse” dan is hy heeltemal reg. Aucamp verwys na die feit dat daar ʼn keuse gepaard gaan met die besluit om jou vertroue in iets te plaas (d.i. geloof te hê in iets). Daardie keuse word beïnvloed deur die vertrouenswaardigheid van die objek waarin vertroue geplaas word en daarom is Aucamp weereens korrek as hy sê “en kan eers tot uitvoering kom as u die nodige kennis en motivering het om die keuse te maak”. M.a.w. as ek tot die oortuiging gekom het dat iets vertrouenswaardig is (geloof te hê dat iets so is), dan kan ek my vertroue daarin plaas deur op ʼn bepaalde manier op te tree. Die punt is dus dat my oortuiging dat iets so is (geloof te hê dat), juis my keuse om my vertroue daarin te plaas (geloof te hê in) voorafgaan.

As ek jou reg opsom dan is jou probleem nie soseer met die logika van bogenoemde verduideliking as sulks nie, maar met die spesifieke toepassing daarvan. M.a.w. jy wil weet of ʼn mens regtig voldoende rede het om tot die oortuiging te kan kom dat God bestaan (m.a.w. te glo dat God bestaan), want dit gaan tog enige keuse vooraf oor of ʼn mens jou vertroue in daardie God sou kon of wil plaas.

Jy is natuurlik heeltemal reg dat om oortuig te wees van iets (te glo dat), die resultaat is van besinning. Waar jy egter erg fouteer (na my mening weens onkunde of dalk vir retoriese effek) is om te impliseer dat so ʼn oortuiging, wanneer dit by die bestaan van God kom, altyd sonder goeie motivering gepaard gaan omdat inligting skynbaar geïgnoreer word en dat so ʼn ‘geloof’ daarom oneerlik is.

Jy noem, n.a.v. Aucamp se verwysing na ʼn spesifieke artikel op ons AntWoord se webwerf, dat jy nie antwoorde kan kry op jou vraag “hoekom glo jy in God nie”. Jy sê dat ʼn mens jou moet glo, dat jy al gesoek het. Die probleem is dat ek jou natuurlik nie glo nie, want by AntWoord is daar ʼn hele afdeling wat gewy is aan die Bestaan van God waar jy talle redes sal kry vir jou vraag “hoekom glo jy in God?” (die artikel waarna Aucamp verwys het natuurlik nie ten doel gehad om hierdie spesifieke vraag te antwoord nie). Nou, ek het geen illusies dat jy noodwendig enige van daardie redes vir jouself oortuigend moet vind nie, maar dis nie jou vraag nie. Jy wil weet wat ander se redes is en jy sal dit daar kry (terloops, as jy dink my redes is nie goed gemotiveerd nie, dan is jy welkom om te verduidelik waarom nie en dan kan ons daaroor gesels.) Ek kry dus die gevoel dat jy dink dat omdat sekere mense nie na jou bevrediging kan redes gee vir waarom hulle in God glo nie (soos jy skynbaar oor jou ma dink (https://apostaat.wordpress.com/2016/04/05/my-moeder-en-haar-taal/) en oor die ouens by Die Plan: https://theplandieplan.wordpress.com/2016/07/26/faith-in-difficult-times/#comment-18), jy daarom dalk al mag besluit het (al sê jy jy is oop) dat daar waarskynlik geen sulke redes is nie. Maar dalk is ek verkeerd?

Ek het vroeër genoem dat wat sake verder bemoeilik wanneer dit by ʼn definisie van geloof kom, is dat skeptici en selfs gelowiges soms ʼn betekenis aan die woord ‘geloof’ toedig wat geen gronde het nie. Jy skryf byvoorbeeld in ʼn Gebore Christen (https://apostaat.wordpress.com/2016/02/08/n-gebore-christen/):

“Ek het soos ‘n kind geglo. Dit beteken dat ek maklik kon aaneem dat die goed wat nie vir my sin maak nie, wel duidelik is vir mense wat al langer daaroor dink. Om te glo beteken dat jy iets as waar aanvaar sonder dat jy dit weet. Om soos ‘n kind te glo beteken dat jy iets as waar aanvaar omdat jy vertrou dat ‘n gesagsfiguur wel weet.”

Jy is heeltemal reg om te sê dat om soos ʼn kind te glo, baie te doen het met die vertroue wat ʼn kind in ‘n gesagsfiguur plaas (sien ook hierdie artikel). Maar dit wat ʼn kind op so ʼn manier glo is natuurlik nie vir daardie rede summier verdag of vals nie! Jy plaas ʼn Richard Dawkins-meme (https://apostaat.wordpress.com/2016/09/13/wie-is-jesus-nou-eintlik/) wat sê: “3 bad reasons to believe anything: tradition, authority, revelation”, maar die feit is dat daar ʼn hordes goed is wat byna alle mense op grond van tradition en authority glo en wat heeltemal aanvaarbaar is (sien gerus hier en hier). En wanneer dit by die afwys van revelation kom, dan het dit meer te doen met naturalistiese vooroordele, as met wat redelik die geval mag wees met die optrede van ʼn God wat werklik bestaan.

Jy sê egter dat “om te glo beteken dat jy iets as waar aanvaar sonder dat jy dit weet”. Nee, ‘om te glo dat’ is doodeenvoudig om ʼn oortuiging te hê dat ʼn bepaalde stelling ooreenstem met hoe dinge werklik is (terloops, dis hoekom daar nie iets is soos geloofsvrye mense is nie). As die stelling waar is en as dit begronding het (en nie maar net ʼn vae opinie is nie), dan kwalifiseer dit as ‘kennis’ (in die epistomologie word kennis dikwels gedefinieer as justified true belief). Die vraag is inderdaad of iemand se oortuiging waar is en goeie begronding het en dit behoort ondersoek te kan word (en dis ʼn komplekse aangeleentheid, gaan lees gerus verder oor die kriteria vir epistemologiese begronding), maar daardie oortuiging kan tog nie vals wees net bloot omdat iemand sê, “Ek glo dat X” nie.

Verder is dit belangrik om te besef dat kennis nie afhanklik is van absolute sekerheid oor wat jy dink jy weet nie. As dit die geval was, dan het ons geen kennis van enige historiese, juridiese, etiese of selfs wetenskaplike feite nie. Die mate waartoe ons kan aanspraak maak op kennis het in meeste gevalle te doen met ʼn hoë mate van waarskynlikheid weens die oorwig van getuienis, en nie omdat ons absolute bewyse kan lewer soos byna net in wiskunde en logika gedoen kan word nie. Trouens, daar is baie dinge wat ek as waar aanvaar, maar wat glad nie objektief geverifieer kan word nie. Dis byvoorbeeld heeltemal geregverdig om te glo (die oortuiging te hê dat dit ooreenstem met hoe dinge werklik is) dat ek laas Desember op vakansie ʼn baie mooi sonsondergang gesien het, alhoewel daardie ervaring op geen ander manier verifieerbaar is as bloot die feit dat dit deel van my geheue is nie. Vanuit iemand anders se perspektief bestaan daar egter altyd die moontlikheid dat ek my dit in ʼn verbeeldingsvlug misgis het of dat my ervaring dalk deel was van ʼn besonder werklike droom of dat my geheue op ander maniere mislei kon gewees het. Maar selfs al kan ek nie bo alle twyfel aan iemand bewys dat dit nie verbeelding of ʼn droom was nie, is ek steeds by my volste reg om te sê dat ek kennis het van wat ek met my oë gesien het.

Baie filosowe argumenteer dat oortuigings soos geheue-oortuigings (memory beliefs) as proper basic beliefs verstaan moet word. M.a.w. dis oortuigings (beliefs) waarvan die waarheidsgehalte bepaal word deur subjektiewe en feilbare ervarings, en nie deur allerlei ander redes of begronding nie. Wat interessant is, is dat filosowe soos Alvin Plantinga en ander meen dat die oortuiging dat God bestaan ook ʼn voorbeeld sou wees van ʼn properly basic belief. Die idee is dat indien God bestaan, dit deel is van hoe Hy die mens gemaak het om te funksioneer sodat die mens onder die regte omstandighede tot die oortuiging sal kom dat God bestaan (wat natuurlik nog nie ʼn waarborg is dat iemand verder ook hul vertroue in God sal plaas nie). Dit beteken nie dat daar nie ook objektiewe redes is om te glo dat God bestaan nie, maar dat ons oortuiging dat God bestaan nie van sulke redes afhanklik is nie. Die implikasie van hierdie idee is dat iemand kan kennis hê van God, selfs al kan daardie persoon geen objektiewe redes gee vir hul oortuiging dat God bestaan wat iemand anders tevrede gaan stel nie. M.a.w. die begronding vir ʼn oortuiging dat God bestaan is my onmiddellike ervaring van God (en presies watter tipe ervaring iemand se verhouding met God sou wees mag persoonsrelatief wees en daarom verskillend wees vir verskillende mense).

Die betekenis van die woord geloof of geloof as konsep is dus baie belangrik en genuanseerd. Natuurlik kan ʼn mens dit op ʼn manier definieer wat die konsep belaglik laat klink. Maar is ons dan nie met strooipoppe besig nie? Jy skryf byvoorbeeld die volgende in Wat ek glo (https://apostaat.wordpress.com/2016/03/08/wat-ek-glo):

“Solank ek die verstand en die oordeel het om te ondersky tussen dit wat ek weet, en dit wat ek nie weet nie. Solank ek myself afvra: “Hoe seker is ek hieroor?  Wat is die rede vir my sekerheid?” Solank ek dít doen, hoef ek niks te gló nie. Ek kan weet of ek kan hoop. Glo is hoop of vrees wat vir jou soos kennis lyk.”

Ek dink jy bedoel dat jy jouself afvra wat die gehalte is van die redes vir jou oortuiging dat iets werklik so is. Jy wil weet of die redes waar en geregverdig is, want dit vorm die basis vir verantwoordbare oortuigings. Die kwessie van persoonlike sekerheid is minder belangrik, want ‘n oortuiging kan vals wees selfs al is ʼn mens seker dat dit waar is. Ek kan ook ʼn oortuiging hê wat waar is, en nie besonder sekerheid daaroor hê nie. Die belangrike punt om in te sien is dat om te sê, “ek weet X” ekwivalent is aan ‘n oortuiging (a belief) dat ʼn stelling oor X ooreenstem met wat werklik die geval is. Dink weer oor die klassieke definisie van kennis in die epistemologie: Knowledge is justified true belief.

Die probleem is dat ʼn mens growwe karikature kan skep en dan dink jy het iets gesê wat inherent waar is van die idee wat jy kritiseer, soos jy met die volgende uitsprake doen:

  • “Glo is hoop of vrees wat vir jou soos kennis lyk” of
  • “Geloof is ‘n verskoning om op te hou soek, om die waarheid te ignoreer” of
  • “as dit jou gewoonte is om te glo jy’s reg sonder goeie rede…” of
  • “die idee dat dit deugsaam of eerbaar is om feite te verwerp ter wille van hoop en vrees”.

Ek erken dat daar onnadenkende Christene is wat dalk op so ʼn manier oor geloof mag dink (net soos daar onnadenkende mense is wat snaakse goed oor baie ander dinge dink), maar ek dink nie dis wat ʼn verantwoordelik begrip van wat geloof werklik beteken van ʼn Christen vereis nie.

Apostaat, jy verwys na ‘n insident (https://apostaat.wordpress.com/2016/02/09/welgeskape/) wat jy sê “‘n stukkie van die band tussen [jou] en die NG Kerk ontrafel” het. Ek het baie simpatie met jou ervaring en ek is seker jy kan nog hordes sulke tipe insidente opnoem wat jou siening en ervaring van die Christelike geloof (natuurlik nie beperk tot die NG kerk nie) geslyp het. Dis die kumulatiewe effek van ʼn klomp sulke skynbaar triviale maar baie persoonlike insidente wat baie mense op die ou end tot die gevolgtrekking kan bring dat die Christelike geloof irrelevant en selfs skadelik is. Ek verstaan en aanvaar dit, selfs al het ek ʼn ander belewenis, en selfs ten spyte van die onsensitiwiteit en onvolwassenheid wat dikwels gepaard gaan met baie van die vlees en bloed mense in wie se oortuigings ek deel en met wie ek op ʼn gereelde basis skouers skuur.

Jy vra op ʼn stadium (https://apostaat.wordpress.com/2016/09/04/hamlet-is-n-christen/): “Tot watter mate het ons ‘n verantwoordelikheid teenoor ons medemens om hom te help as hy iets glo wat vals is?  Ek wens daar was mense wat dit vir my gedoen het.  Dit is moeilik om nie te wonder hoe ek sou anders wees as ek vroeër vrygeraak het nie.  As ek nooit vas was nie.”

Ek dink ons het altyd ʼn verantwoordelikheid om valsheid aan te spreek. Dit vorm ʼn groot deel van my eie motivering om aan gesprekke soos hierdie deel te neem. En ek hoor jou as jy sê dat jou ervarings jou vas en gevange laat voel het. Ek ontken nie jou ervarings nie en ervarings is altyd kompleks, maar ek bevraagteken onder andere die suggestie dat die boodskap en inhoud van die Christelike geloof inherent vir so ʼn ervaring verantwoordelik is.

Wel, sien hierdie as ʼn opregte uitnodiging tot gesprek.

Groete

Udo

Sien die res van hierdie gesprek:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*