Is ‘apologetiek’ Bybels?

Hi Udo

Ek is nie seker of ek die hulp nodig het en of my vriend die hulp nodig het nie. Ek praat al ‘n lank ruk met die een ou by die werk wat ook ‘n Christen is. Ons het baie filosofiese tipe gesprekke gehad, gister bv of jy nasionalisme los kan maak van Christenskap, bv, of as jy ‘n nasionalistiese staat het, Christenskap beter gaan doen in so ‘n staat as een wat gemengde nasionaliteite het. Die ou was vuur en vlam vir ‘n aparte staat. Maar êrens deur die maande het ek ‘n saadjie geplant, want die ou het gister aand tot inkeer gekom, verbasend verander: hy haat nou nie meer ander nie en is min gepla oor nasionalisme, want alles is onder God se beheer. Sy houding is nou meer dat al wat jy nodig het is die Bybel, wat nie verkeerd is nie, maar hy dink nou nie meer dat jy apologetics, “mense kennis”, soos hy dit nou noem, nodig het nie. Dit klink snaaks om te sê, maar ek weet nie eintlik wat om vir hom te sê nie. Ek het juis apologetics gebruik as ‘n hulpmiddel, met hom en van sy familie, en die Bybel ook baie aangehaal.

Hy sê hy veroordeel nie ouens wat apologetics doen nie, maar hy dink persoonlik nie dis reg nie, dat alles wat gebeur binne God se wil is. Ek het vir hom probeer sê dat daar ‘n onderskeid is tussen wat Sy wil is en wat Hy toelaat, maar hy sê dat as God iets toelaat, dan is dit in Sy wil – wat teoreties waar is.

Hoe hanteer ek so iets. Terselfdertyd is hy vuur en vlam om God se woord uit te dra deur net die Bybel te gebruik.

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

As Christene weet ons dat die Heilige Gees die Woord gebruik om mense se lewens te verander. Eerstens doen Hy dit wanneer ons die Evangelie hoor en glo (wedergeboorte) en tweedens doen Hy dit wanneer ons ons lewens dan rig (geestelike groei) volgens dit wat God se wil is soos Hy dit in sy Woord geopenbaar het .

Hier is egter my vraag: Hoeveel mense is daar wat nie die Evangelie hoor of glo nie, omdat hulle met allerlei twyfel en vrae worstel? Wat doen ons as sulke mens deur die dinge wat hulle pla nie regtig kán hoor as ons vir hulle sê dat God hulle liefhet of dat die Bybel God se manier is om met hulle te praat nie? Ons is naïef as ons dink dat sulke mense skielik gaan glo as ons bloot maar vir hulle Joh. 3:16 aanhaal, of erger nog: dat hulle net hardkoppig is en nie wíl glo nie. Sulke mense se vraag is dalk bloot oor hoe hulle in die eerste plek kan weet dat daar enigsins ‘n God is. Of hoekom enigiets wat in die Bybel staan geloofwaardig is. Dis sulke opregte vrae wat baie mense daarvan weerhou om te ‘hoor’, wat nog te sê van ‘glo’.

Dit is hier waar Christelike apologetiek ter sprake kom. Dis nie in kompetisie met geloof of ‘n aanvaarding van die Bybel nie, maar eerder ‘n voorloper daartoe. Daarom gaan dit ook nie daaroor dat ons mensewoorde belangriker ag as God se Woorde nie. Dit gaan bloot daaroor dat ons mense se vrae en besorgdheid ernstig opneem en dan wys dat God ook vir hulle ‘n intellek gegee het wat hulle nie hoef te verloën wanneer hulle oor God se bestaan of sy Woord nadink nie. Die Christelike apologetiek het daarom ook nie ten doel om iemand in die hemel in te redeneer nie. Wedergeboorte is steeds ‘n geloofsaak: ‘n vertroue in wat ‘n Lewende God deur ‘n historiese Jesus op ‘n sekere tyd en plek aan ‘n houtkruis vir ons gedoen het. Hierdie is steeds ‘n stap in die geloof; die apologetiek kom wys egter dat wat Christene glo gronde het en dat dit nie ‘n blinde sprong in die donker is nie.

Die beste manier om ondersoek in stel na die waarde van apologetiek (of die belangrikheid van rasionele integriteit) is om die Bybel self te ondersoek. Om hiermee te help het ek ‘n paar skakels na artikels aangeheg waarvan sommige die Bybelse mandaat ondersoek om gereed te wees om ‘n antwoord te gee aan diegene wat ons vra oor die hoop wat in ons leef (1 Pet. 3:15-16).

Jy kan ook na ‘n uitstekende aanbieding van Dr. Richard Howe luister oor wat apologetiek is.

Beste groete
Udo

Sien ook die volgende artikels:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.