Is dit Sabbat of Sondag?

Hallo,

Waarom het die Christene besluit om die Sabbat  te verskuif na die 1ste dag van die week nl. Sondag?

Winkelsmidt

Hallo Winkelsmidt

Baie dankie vir jou vraag.

Die eerste Christene (Christus-volgelinge) het op ‘n Sondag, die eerste dag van die Joodse week, begin bymekaar kom (Hand 20:7, 1 Kor 16:2) spesifiek om Jesus se opstanding (Matt 28:1,9,10; Mark 16:9; Luk 24:1,13,15; Joh 20:19,26) te herdenk. Om die waarheid te sê het Christene aan die heel begin beide die Sabbat en die Sondag gedenk.  Dit was hoofsaaklik omdat bykans al die eerste Christene Jode was.  Aan die begin was die verhouding tussen Jode en Christene goed, maar met die verloop van tyd het hierdie verhouding versleg en al hoe meer nie-Jode tot geloof in Jesus gekom.  Dit het tot gevolg gehad dat Christene begin het om slegs die Sondag te gedenk en die Sabbat het in onbruik verval.

Dit moet egter duidelik gestel word dat dit nie korrek is om te sê dat die Sondag, as ‘n dag van aanbidding waarop meeste Christene bymekaar kom, in die plek van die Sabbat gekom het nie (m.a.w. die Sabbat het nie na die Sondag verskuif nie). Nee, soos baie ander wette in die Ou Testament, is die onderhouding van die Sabbat met sy baie spesifieke doel en stipulasies soos dit in Eksodus tot Deuteronomium uiteengesit word, deel van die wette wat God aan die Joodse volk deur Moses gegee het. Met die koms van Christus is al die Ou Testamentiese wette in Hom vervul (Matt 5:17). Dit beteken dat niemand meer enige wette nakom as ‘n manier om God se goedkeuring te bekom nie (Galasiërs 3). Mense behoort aan God wanneer die Heilige Gees in hul lewe (Rom 8:9,13-16) kom en dis Hy wat hulle in staat stel om aan God gehoorsaam te wees (Rom 8:4).

Jesus was die enigste persoon wat die vereistes van die wet perfek nagekom het en omdat Hy terselfdertyd ook die vervulling van die wet was, is dit Hy waarna die wet heenwys (Rom 10:4; Gal 3:19,23-25; Ef 2:15). Van ons word daar net een ding gevra om in die regte verhouding met God te kom: geloof, meer spesifiek, geloof in die feit dat Christus die straf vir ons sonde gedra het – sonde a.g.v. die feit dat ons nie God se wette perfek kán nakom nie (Rom 8:3-5).

Die onderhouding van die Joodse Sabbat is dus nie iets wat mense ná Christus meer hoef na te kom om God tevrede te stel nie (sien ook Kol 2:16–17, Rom 14:5–6a, Gal 4:9–10 Matt 12:8, Mark 2:27). Christene kan op enige dag van die week bymekaar kom (tradisioneel is dit Sondag as herdenking van die Opstanding), nie omdat dit ‘n wet is nie, maar omdat Christene deel is van die liggaam van Christus (1 Kor 12:12-30) wat mekaar nodig het en ook saam aan die Here eer wil bring.

Dit is ook belangrik om te sien dat God van die begin af ‘n ritme vir die menslike bestaan daarstel.  Dit kan gesien word in die ses skeppingsdae gevolg deur die een dag se rus asook in die 18 jaar wat Jesus as skrynwerker gewerk het (vandat hy 12 was tot hy 30 was) en drie jaar van Sy openbare bediening.  Dit lyk asof die Here se ritme ses eenhede se gewone werk en dan een eenheid se rus is. ‘n Mens kan aanneem dat God dit so reël omdat Hy wéét wat goed is vir ons en omdat Hy ons beste belange vooropstel.  Hierdie voorbeeld en opdrag word dus gegee tot ons voordeel, nie om ons in te perk nie.  As jy ‘n gebalanseerde lewe wil leef wat jou in die Here geanker hou is dit nodig om God se geskenk van een rus dag, waartydens jy spesiaal op Hom kan fokus, as deel van jou lewensritme in te bou.

Gebruik ook die sleutelwoorde “sabbath” en “law” in die soekgleuf by www.gotquestions.org vir ‘n hele paar kort artikels wat die verhouding tussen die wet en die Sabbat ondersoek.

Jy is welkom om enige opvolg vrae of ander vrae te vra.

Groete
Udo

 

Goeiedag.

Dink net hoeveel FOUTE word in die volgende bevat …

“Die eerste Christene (Christus-volgelinge) het op ‘n Sondag, die eerste dag van die Joodse week, begin bymekaar kom (Hand 20:7, 1 Kor 16:2) spesifiek om Jesus se opstanding (Matt 28:1,9,10; Mark 16:9; Luk 24:1,13,15; Joh 20:19,26) te herdenk.”

… en word glad nie besef nie.  Dis so jammer.

By voorbeeld,

“Die Joodse week”;

Nog in handelinge 20:7, nog in 1Korintiers 16:2 staan daar geskrywe dat Christene ‘bymekaar gekom het’.

En in geeneen van “Matt 28:1,9,10; Mark 16:9; Luk 24:1,13,15; Joh 20:19,26”, staan daar geskryf dat Jesus op Sondag opgestaan het nie.

Ons is so gewoond om sulke FOUTE sommer net as vanselfsprekend te aanvaar; DIS ONS MOEILIKHEID, ONS KEN NIE DIE REGTIGE ‘SKRIF’ NIE!

WInkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Op jou webwerf maak jy op ’n stadium die volgende opmerking: “Een of ander ‘kerkvader’ het gesê mens kan die onkundige nog inlig. Maar mens kannie die beterweter reghelp nie. Die onkundiges lees die Bybel; die beterweters skryf die Bybel aan ons voor om te lees soos hulle wil hê hy gelees sal word.”

Ek weet nou nie of jy my (ons) as onkundig of eerder as beterweterig sou wil klassifiseer nie, maar mag ek voorstel dat nie almal wat met JOU verskil onkundig of beterweterig is nie. Soms is dit bloot dat Christene van mekaar verskil omdat sekere dinge in die Bybel ons werklik toelaat om met mekaar daaroor te verskil. Dit beteken nie dat altwee partye reg kan wees nie, maar dat ons groter nederigheid aan die dag sal lê in ons omgaan met ander. Ek het daarom geen begeerte om met jou in ‘n debat te tree oor iets soos die Sabbat nie en beskou ons siening as ‘n verantwoordelike omgaan met die teks.

Jy mag egter korrek wees dat daar “FOUTE” in ons verstaan oor sekere sake mag wees. Die groot vraag is egter of Winkelsmidt bereid is om te erken dat daar foute in sy verstaan kan wees. Ongelukkig moet ek sê (en ek sê dit glad nie ligtelik nie) dat dit nie die indruk is wat ek kry as ek sien hoe jy met ander Christene omgaan wat van jou sienings verskil en hoe jy met hulle argumenteer nie. Jou interaksie met ander, veral op internet forums, sou voorbeelde wees waarna ek wil verwys.

Beste wense vir jou.

Udo

 

Geagte Udo,

Wat ‘n pragtige span TOEGERUSTE mense in die Here se werk, volgens ‘wie-is-ons’personeel’!

Baie geluk!

Wat my veral opgeval het is die span se betrokkenheid by “apologetiek”.

Dis waar die moeilikheid lê; dis nie altyd so maklik om dieselfde ‘gees’ te openbaar en te handhaaf as byvoorbeeld met u wonderlike “ Vriendskap-evangelisasie” nie— uiteraard. Apologetiek is nou maar eenmaal kontensieus.  Maar ek weet ek gaan gereeld te ver en vergeet die Skrif-vermaninge hoe die gelowige met verantwoording oor sy geloof behoort op te tree.  Ek pleit skuldig.

Van alles bly die hoofsaak die Hervormingsbeginsels van Die Skrif alleen, die Geloof alleen, die Genade alleen, en Christus alleen!  En na alles – met volle versekerdheid van die vergifnis van my sondes – weet ek dat DIT deurentyd my strewe was en is en altyd sal wees : So help my God AL KOS DIT WAT! “Die Waarheid sal julle VRY maak” … Christus Jesus is die Waarheid, die volle Waarheid en die enigste Waarheid van God : “VOLGENS DIE SKRIFTE”.

Dit is hoekom ek NOOIT met die ‘Sondag-ding’ versoen of van die Skrif en Christus se Sabbatswaarheid ontvreemd sal kan word nie.

Dit HET my alle ‘vriendskappe’ gekos : Jesus Christus is my ENIGSTE VRIEND wat my in die lewe AS GEVOLG VAN BYBELWAARHEID, getrou gebly het. Ek praat die waarheid; ek lieg nie; ek praat proef-ondervindelik. Ek sien nou net nog uit na die opstanding van die vlees, wanneer ek sal uitvind hoe baie waaragtige vriende en vriendskappe my van ewigheid af in Hom beskore was.

So, geagte Udo, vel maar u harde oordele oor my; ek verdien ieder en elk. Dit gaan my nie afsit nie : Geseënd is die God en HERE van die Sabbatdag ons Here Jesus Christus!

Winkelsmidt

Naskrif:

Weereens dankie dat u teruggeskryf het.

Sien ook:

10 Comments

  1. Geagte Udo

    Ek het bostaande info gelees en voel nou meer verward as ooit. Is dit dan total teenstrydig indien ons dus op Sondae kerkdienste bywoon en die “Sabbat” op ‘n Sondag hou ipv op ‘n Saterdag. Verskoon – ek is ‘n leek en nie ‘n geleerde man soos u wat almal hier skryf nie.

    • Roelof, ek is nie seker wat spesifiek jy gelees het wat jou verward maak nie. Die Sabbat is ‘n Joodse rusdag wat onderworpe is aan al die Mosaiese wette soos dit in Eksodus tot Deuteronomium uitgespel word. Christene is egter nie meer onder die juk van enige wette nie. Christus is die vervulling van die wet en as Christene is ons slegs onder die verpligting van die wet van liefde. Christene volg dus nie meer die wette na wat vir die Joodse Sabbat geld nie (anders sou ons almal dieselfde gedoen het as wat Ortodokse Jode vandag steeds op die Sabbat doen). Christene kom op Sondae bymekaar, nie as ‘n Sabbat nie, maar histories as die viering van Jesus se opstanding. Die beginsel van die Sabbat, dat God dit so bepaal het dat die mens een uit elke sewe dae sal rus, is steeds belangrik vir ons welsyn as mense. Vir die meeste Christene val hierdie rusdag en hul gesamentlike aanbidding op dieselfde dag, naamlik Sondag. Maar daar is geen wet wat bepaal dat enige of albei van hierdie dinge op dieselfde dag moet plaasvind nie. Weereens, ons is vry van enige wette (Jesus het ons vrygemaak), slegs die beginsel van die liefde geld.

    • Die Roomse kerk het die Sabbat na Sondag geskuif. Dit is in hulle boeke so geskryf Dat hulle, en dit is die Roomse kerk, self erken Dat hulle dit verander het.

      • Johan, as Christen glo ek dat die Joodse Sabbat in Christus vervul is – Hy is my ware Sabbatsrus. As Christen vier ek dus nie die Joodse Sabbat nie en doen dit ook nie op ‘n Sondag nie. Die vroee Christene het Jesus se opstanding op ‘n Sondag begin vier en later ook hulle samekomste op die Sondag gehou.

        • Hoekom altyd sê die Joodse Sabbat. Dit is die Israeliete wat die Here gelei het. Die Jode glo nie Dat Jesus gebore is nie.

          • Die “Jode” is bloot ‘n kollektiewe naam wat verwys na al diegene (al 12 stamme) wat afstammelinge van Jakob was en met wie God ‘n verbond gesluit het.

  2. Udo – Ek was vir meer as 10 jaar betrokke by die Sewende Dag Adventiste Kerk, daarin groot gedoop (wat volgens Bybel korrek is). Hulle glo slegs dat die Sabbat op die Sewende Dag gevier word en al die bewyse is daar – Selfs Jesus het die Sabbat gehou – Hy het dit gehou van sononde op die sesde dag tot sononder op die sewende dag – as mens na die kalender kyk is en was die sewende dag Saterdag. Selfs met Jesus se dood en opstanding word verwys na die Sabbat wat onderhou is.

    Watter verklaaring is daar? Ek het altyd my Bybel anders gelees. Ja ek gaan tans op Sondae Kerk toe maar ek weet dat Sabbat eintlik op Saterdag is en dat God se rus ‘n volkome rus is – nie soos ons doen om Sy dag te gebruik om nog aan wereldse dinge deel te neem nie.

    Ja, die Adventiste Kerk word beskou as te wetties. Die Rooms Katolieke Kerk het onlangs in ‘n verklaring dit dit duidelik gestel dat HULLE God se Sabbat van Saterdag na Sondag verskuif het. Hulle het mense vervolg wat wel nog Sabbat onderhou het.

    Ek gee bloot wat ek self geleer het in my tyd in die Adventiste Kerk.

    Pierre

    • Hallo Pierre

      Dankie vir jou opmerking. Ek staan by my uiteensetting vir waarom ek nie die Sabbat onderhou nie. My oortuiging is dat Sabbatsonderhouding nie meer ‘n wet is wat vir enigiemand geld nie. Veral ons as nie-Jode was en is nog nooit onder die wet van Moses gewees nie (sien Rom 2:14), maar almal wat Jesus as Here en verlosser ken is nou onder die wet van Christus. Verder het ek ook aangedui dat sedert die vroegste gesamentlike aanbidding op die “dag van die Here” (Sondag) nie bedoel was om die Sabbat te vervang nie.

      Waarop dit neerkom is dat ek geen probleem het wanneer iemand wel die Sabbat wil onderhou as ‘n uitdrukking van hul toewyding aan die Here nie. Waarmee ek wel ‘n probleem het is as Christene Sabbatsonderhouding (as ‘n Joodse wet) ‘n voorwaarde en bewys maak vir ‘n opregte verhouding met Christus as jou Here. Sodoende word ons soos die Jode van ouds onder die juk van Moses se wet gedwing en terselfdertyd ontken dit Jesus as die vervulling van hierdie wet (en ja, Hy kon slegs die vervulling daarvan wees as hy dit self volkome kon nakom). Soos wat ek die evangelie verstaan is my redding gegrond in Christus se werk aan die kruis alleen en my geloofsgroei afhanklik van die Heilige Gees se werk in my daaglikse lewe, en nie een van hierdie dinge het enigiets te doen met die onderhoduing van een of ander wet nie.

      So, ek is nie eintlik besonder geinteresserd in ‘n redekawel met iemand oor “Sabbat of Sondag” nie, want ek dink dat as ‘n mens die Evangelie reg verstaan, dan behoort hierdie saak in perspektief te val.

  3. — 1 —
    “Die eerste Christene (Christus-volgelinge) het op ‘n Sondag, die eerste dag van die Joodse week, begin bymekaar kom (Hand 20:7, 1 Kor 16:2)”

    a) Die gebod is nie om bymekaar te kom nie, dis om die dag te heilig (Ex 20:8) deur om nie te werk nie (Ex 20:9-10).
    b) In Hand 20:7 is die Joodse manier van dae tell nie middernag to middernag nie, maar sons ondergang tot sons ondergang, so dit lees:
    En op die eerste dag van die week [Saterdag aand], het Paulus hulle toegespreek, omdyt hy die volgende dag [Sondag oggend] sou vetrek en hy het sy rede gerek tot [Saterdag] middernag toe. – Hand 20:7
    c) Die woord “dag” is nie eens in die Grieks nie. Dit lees letterlike, “eerste van sabbat.”
    d) (a) en (c) tell vir 1 Kor 16:2.
    e) Die rede hoekom hulle die geld moes saam sit op die eerste dag, is omdat dit die dag is wat hulle geld kry, en die les hieruit is dat jy moet eerste vir God jou geld uitsit, voor enige ander dinge.

    — 2 —
    “spesifiek om Jesus se opstanding (Matt 28:1,9,10; Mark 16:9; Luk 24:1,13,15; Joh 20:19,26) te herdenk.”

    Daar is geen so rede gegee nie. Wys my in die Bybel waar daar staan, “ons herdenk Sonday oordat Jesus op daai dag opgestaan het.”

    — 3 —
    “Om die waarheid te sê het Christene aan die heel begin beide die Sabbat en die Sondag gedenk. Dit was hoofsaaklik omdat bykans al die eerste Christene Jode was. Aan die begin was die verhouding tussen Jode en Christene goed, maar met die verloop van tyd het hierdie verhouding versleg en al hoe meer nie-Jode tot geloof in Jesus gekom. Dit het tot gevolg gehad dat Christene begin het om slegs die Sondag te gedenk en die Sabbat het in onbruik verval.”

    Daar is niks hiervan in die Bybel nie.

    — 4 —
    “Met die koms van Christus is al die Ou Testamentiese wette in Hom vervul (Matt 5:17). Dit beteken dat niemand meer enige wette nakom as ‘n manier om God se goedkeuring te bekom nie (Galasiërs 3).”

    a) Vervul beteken nie om tot ‘n einde te maak nie. Dit beteken soos ‘n man sy huweliksbeloftes nakom aan sy vrou. Jy kan maar netsowel se dat Jesus “Jy mag nie moord pleeg nie” vervul het. Now wat? Ek kan nou moord pleeg?
    b) Volgens (a), Jesus weerspreek homself dan: Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind [tot ‘n einde te maak] nie. Ek het nie gekom om te ontbind [tot ‘n einde te maak] nie maar om te vervul [tot ‘n einde te maak].
    c) Volgens (a) & (b) die context is reggestel op vers 18-19:
    Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. – Mat 5:18-19
    d) Straw-man argument, want niemand kry goedkeuring deur die wet nie. Galasiërs 3 is kommentaar van wat al klaar geskruif is in Habakuk. In teendeel, ek weet nie hoe jy dit gaan reg kry nie. Veronderstel daar is ‘n moordernaar voor die hof, en hy se, “Kyk mense, kyk na al die mense wat ek nie dood gemaak het nie (wet onderhou).” En dan word hy vrygelaat

    — 5 —
    “Mense behoort aan God wanneer die Heilige Gees in hul lewe (Rom 8:9,13-16) kom en dis Hy wat hulle in staat stel om aan God gehoorsaam te wees (Rom 8:4).”

    Niks nuuts nie. Dit is altyd die geval.

    — 6 —
    “Jesus was die enigste persoon wat die vereistes van die wet perfek nagekom het en omdat Hy terselfdertyd ook die vervulling van die wet was, is dit Hy waarna die wet heenwys (Rom 10:4; Gal 3:19,23-25; Ef 2:15).”

    Sien (4a), dit beteken nie dat as Jesus die wet geonderhou het nie, dat ons nie hoef nie.

    — 7 —
    “die feit dat ons nie God se wette perfek kán nakom nie (Rom 8:3-5).”

    So verduidelik gou vir my hoe dit werk. God het vir Israel uit Egipte gered, net om hulle onder ‘n wet te sit wat hulle nie kan perfek kan hou nie, en hulle te straf as hulle dit nie so doen nie vir generasies? Klink dit na ‘n regverdige God? In teendeel, ja, ons almal het gesondig, maar dit beken nie dat ons nog verder daarin moet lewe nie. Jesus het ons nie gered van die wet nie, hy het ons gered van die straf van sonde as ook sonde.

    — 8 —
    “Die onderhouding van die Joodse Sabbat is dus nie iets wat mense ná Christus meer hoef na te kom om God tevrede te stel nie (sien ook Kol 2:16–17, Rom 14:5–6a, Gal 4:9–10 Matt 12:8, Mark 2:27).”

    a) Kol 2:16-17 sê nie dat ons vrylik kan bloed drink, vrot fleis kan in vat nie. Dit sê ook nie dat ons vieslike heilig dae van ander gode kan herdenk nie. In kontext sê dit dat ons nie laat ander ons moet oordeel oor hoe ons die Sabbat dag moet heilig volgens hulle tradisies en wette van mense nie. Daar is ‘n verskil tussen die Torah en die Talmud. Die een is van God af, die ander is van mense af.
    b) Rom 14:5-6: Wat het vasting en dae van vasting te doen met die vierde gebot? Weereens, Rom 14:5-6 sê ons kan ander gode se heilige dae herdenk nie.
    c) Gal 4:9–10: Volgens context het hulle terug gegaan na hulle ou gode toe deur hulle heilige dae te herdenk.
    d) Mat 12:8 & Mar 2:27: Natuurlik is Jesus die God van die Sabbat dag. Hy het dit geheilig (Joh 1:1-3) in Genesis 2:3. Om te verklaar dat Jesus die Sabbat dag gebreek het hier, is om die kant van die Jode te vat wat geleentheid gesoek het om sonde in Hom uit te wys.

    — 9 —
    “Christene kan op enige dag van die week bymekaar kom”

    Watter dag het God uiteen gesit? Maandag? Of Saterdag? Veronderstel daar is 7 vrouens in ‘n kamer en 1 is joune. Maak dit saak watter een jy gaan huis toe neem? God het uitdruklik gesê, “die sewende dag”, nie “‘n sewende dag” nie.

    — 10 —
    Sy priesters verkag my wet en ontheilig my heilige dinge! Tussen heilig en onheilig maak hulle geen onderskeid nie, en die verskil tussen onrein en rein gee hulle nie te kenne nie; daarby maak hulle hul oë toe vir my sabbatte. Ja, Ek word onder hulle ontheilig. — Ese 22:26

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.