Was National Geographic reg oor Darwin?

deur André van Zyl

Inleiding

Een van die AntWoord bediening se doelstellings is om ingeligte kommentaar op relevante sake van die dag te lewer.  Die artikel “Was Darwin wrong?” wat in die November 2004 uitgawe van die tydskrif “National Geographic” verskyn het, is hier ter sprake.  Die artikel begin deur die bogenoemde vraag te beantwoord deur dit met groot duidelike letters uit te spel: “NO”.  Die implikasie is dat Darwin se evolusie teorie dus reg was.  Die hieropvolgende artikel is die AntWoord bediening se reaksie op die inligting wat in die artikel vervat is.  Daar word met die artikel gepoog om van die drogredenasies in die National Geographic artikel te ontmasker.  Die vraag word gevra of die absolute sekerheid oor die korrektheid van die evolusie teorie deur die getuienis ondersteun en geregverdig word.  Baie van die meer tegniese aspekte van evolusie word nie in detail in hierdie artikel hanteer nie.  Vir verdure inligting hieroor, raadpleeg asseblief een van die AntWoord bediening se studiestukke oor evolusie.

Dit is belangrik om te begin deur te sê dat die volgende AntWoord nie vanuit godsdienstige fundamentalisme of enige ander “onredelike” oorsprong spruit nie.  Die AnTWoord bedizening se siening van Genesis is nie ‘n letterlike interpretasie (letterlik in die sin wat die voorstanders van ‘n jong aarde dit interpreteer) nie.  Dit is ook nie vanuit ‘n hoek van totale wantroue van die wetenskap nie.  Die lede van die AntWoord bediening is gemaklik met ‘n simbiotiese siening oor die verwantskap tussen wetenskap en godsdiens.  Die rede waarom ‘n bediening soos AntWoord op iets so wetenskaplik as die oorsprong van lewe en spesie diversiteit op aarde fokus, is omdat evolusie dikwels as argument teen die bestaan van God gebruik word.  Die AnTwoord bediening is egter daarvan oortuig dat selfs al was die bewyse vir evolusie as oorsprong van lewe en spesie diversiteit sterk genoeg, dit nie noodwendig in stryd met die Bybel sou wees nie.  ‘n Bestudering van die verskillende argumente waarop evolusie steun, skep ‘n sterk indruk dat die evolusie teorie se bene effe meer wankelrig is as wat baie wetensakplikes sal erken.  Die redes hiervoor berus almal op die bestaan en aard van die beskikbare wetenskaplike bewyse en getuienis.  Wetenskaplike teorie soos evolusie kan nooit heeltemal waar of vals bewys word nie.  Hierdie tipe teorie se aanvaarbaarheid hang af van die geloofwaardigheid waarmee dit waargenome gebeure verklaar en voorspellings maak.  Die volgende bespreking het daarom ten doel om die gegewe artikel toe te lig en te analiseer vanuit hierdie kritiese perspektief.  Die leser word gevra om die argumente en kritiek wat in hierdie artikel uitgespreek word op wetenskaplike en logiese gronde te oorweeg en self te besluit of dit regverdig is.

Toegewings

Daar is ‘n paar toegewings wat gemaak moet word voordat daar op die inhoud van die artikel gefokus word.  Die eerste en belangrikste toegewing is dat evolusie binne spesies (mikro-evolusie of anagenesis) wel plaasvind.  Verskillende tipes diere het in die verlede bestaan wat vroeë voorsate is van moderne diere wat vandag bestaan.  Daar is egter geen onomwonde bewyse van die oorgang van een spesie na ‘n ander nie. Perde het nog altyd perde gebly al het hulle effens in vorm van mekaar verskil. Hulle is steeds herkenbaar as perdagtige diere.  Al die bewyse wat die ontstaan van sub-spesies binne ‘n spesifieke organisme se populasie ondersteun word egter in National Geographic se artikel gebruik om die ontstaan van heeltemal verskillende spesies te verduidelik.  Die tweede toegewing is dat dit lyk of daar ‘n moontlikheid bestaan dat daar ‘n onderlinge verband tussen sekere soorte diere kan bestaan.  Hulle het sekere eienskappe in gemeen.  Die term “evolusie” beteken letterlik ‘n ontvouing.  Indien daar na die beskikbare getuienis gekyk word, het een of ander vorm van ontvouing wel plaasgevind.  Is hierdie ontvouing toe te skryf aan die teorie van evolusie met die meganisme van natuurlike seleksie en/of mutasies as die wyse waarop dit plaasgevind het? Die antwoord op hierdie vraag is die belangrikste in die hele debat oor evolusie.

Analise

Die eerste aspek wat opval wanneer die artikel gelees word is die uitstekende tegniese uiteenstetting daarvan. Die uitleg is opvallend en die fotos treffend.  Baie van die belangrike vrae word in groot letters getik en die taal is relatief toeganklik.  Daar kan nie hiermee fout gevind word nie.  Dit lyk op die oog af na ‘n poging om evolusie se beeld onder die algemene publiek uit te bou deur ‘n populêre wetenskaplike artikel daar te stel.  Indien die inhoud, argumente en bewyse wat in die artikel gebruik word egter van naderby beskou word, is die beslissing nie heeltemal so positief nie. In die hieropvolgende kritiese analise van die artikel sal ‘n paar drogredenasies uitgelig word.  Hierdie redenasies skep ‘n atmosfeer wat as “evolusionêre-propaganda” beskryf kan word.  ‘n Drogredenasie is ‘n argument wat op die oog af oortuigend lyk, maar by nadere ondersoek nie werklik verdedigbaar is nie.

Drogredenasies

Eerstens noem die outeurs dat amper die helfte (44%) van die Amerikaanse bevolking anti-evolusie is.  Dan poog die skrywers om redes hiervoor te gee.  Die redes wat gegee word sluit die volgende in:  Mense wat “scriptural literalism” beoefen, (met ander woorde die Bybel of Koran letterlik opneem), ander het weer “honest confusion”, sommige is “skeptical by nature”, “unfamiliar with the evidence” of selfs bloot “ignorant”.  Hiermee word geïmpliseer dat geen ernstige, eerlike en ingeligte persoon enigsins sal twyfel aan die waarheid van evolusie nie.  Die moontlikheid dat daardie 44% mense wat teen evolusie is, reg kan wees en die ondersteuners van evolusie verkeerd, word nie eens as ‘n moontlikheid oorweeg nie.  Tweedens word die evolusieteorie op ‘n gelyke vlak as Einstein se relatiwiteitsteorie, die atoomteorie en die feit dat die aarde om die son wentel, gestel.  Al drie hierdie teorië het spesifieke voorspellingswaarde en verklaar waargenome verskynsels met groot sukses.  Verder is daar eksperimente wat gedoen kan word om die akkuraatheid daarvan te toets.  Die aanvaarding van die evolusie teorie se in die uitgelese geselskap van sulke teorieë, sal afhang van die bewyse en die akkuraatheid van die voorspellings wat daardeur gemaak word.  Dit help nie dat dit ewe “mooi” is nie, dit moet ewe “waar” wees.  Is die getuienis wat evolusie ondersteun na 150 jaar se navorsing naasteby op dieselfde vlak?

Getuienis (observasies)

Oor die getuienis maak die skrywers redelike sterk uitsprake.  Terme soos “overwhelming evidence”, “deeply persuasive”, “vast body of supporting evidence”, “abundant and various supporting evidence”, Ever increasing, solidly interconnected”, “easily available, mountainous accumulation” en “fields that overlap seamlessly” is wat oor die beskikbare getuienis gebruik word.  Dit spreek nogal van baie selfvertroue oor hoe die getuienis daar uitsien.  Die probleem is dat dit nie help om vleiende uitsprake oor getuienis te maak as die getuienis self nie regtig daardie komplimente effektief ondersteun nie.  Met die lees van die artikel is daar ‘n hol afwesigheid van getuienis wat aan die bostaande komplimente reg laat geskied.  Vervolgens sal na ‘n paar voorbeelde hiervan verwys word.  Die vraag waarmee die artikel open, skep ‘n verwagting dat daar ‘n goeie opsomming van die beskikbare getuienis gegee sal word. Die skrywers self stel dit dat observasies en eksperimente baie belangrik is om ‘n teorie se geloofwaardigheid te bepaal.  Watter getuienis bestaan daar vir evolusie?  Die skrywers beweer dat evolusie te stadig plaasvind om deur wetenskaplikes waargeneem te word.  Volgens die evolusie teorie, ontwikkel nuwe ledemate en/of organe stap vir stap.  Die implikasie hiervan is dat elke oorgang tussen spesies honderde “oorgangsorgane/ledemate” behoort te hê.  Dit sou realisties wees om te verwag dat daar iewers op aarde in een of ander organisme of fossiel in die afgelope 150 jaar se navorsing ‘n voorbeeld hiervan sou wees.  Net een half gevormde ledemaat of orgaan, net een oorgangspesie.  Daar is geen.  Omdat hierdie gapings nie deur klassieke evolusie verklaar kan word nie, het wetenskaplikes met die konsep van “punctuated equilibrium” vorendag gekom.  Hiervolgens vind evolusie met tye plaas, gevolg deur tye waar geen evolusie plaasvind nie.  It sou uit die getuienis blyk dat die afgelope 150 jaar ‘n tyd van stabiliteit was!  Gelukkig word daar gedurig nuwe fossiele gevind wat die volledigheid van die fossielrekord aanvul.  Darwin self het gesê dat indien hy reg is dan behoort die fossielrekord te wemel van oorgangspesies. Hoewel daar snaakse voëls en walvisagtige organismes met agterbene gevind word, kwalifiseer nie een van hulle as ‘n oorgangspesie nie.  Elke orgaan is perfek gevorm en voltooi en kwalifiseer nie as ‘n voorbeeld van ‘n oorgangsorgaan/ledemaat nie.  Dit is nie besig om te ontwikkel soos daar verwag sou kon word indien die evolusie model met natuurlike seleksie korrek sou wees nie.  Ander obsevasies in die artikel sluit uitstekende voorbeelde van evolusie binne spesies in. Daar word gepraat van evolusie van viruses en diere (maar AIDS bly AIDS en perde bly perde).  ‘n Volgende stuk “getuienis” wat as argument vir evolusie gebruik word is die ooreenkomste in genetiese inligting in die DNA van organismes.  Die argument is dat hierdie wesens van mekaar familie is en dat hulle ‘n voorouer deel.  Tog maak die verskille wat wel bestaan ‘n wesenlike bydrae tot die organisme wat bestudeer word.  Die inhoud van gebruikersgidse wat deur die vervaardiger saam met elektroniese toerusting verskaf word, of die uitleg en inhoud van elektroniese stroombane van soortgelyke toerusting sal ‘n hoë voorkoms van ooreenkomste hê.  Dit bewys nie ‘n direkte band nie.  Dit is eerder die bestaande verskille wat ‘n wesenlike rol speel in hierdie verband.  Die klein verskille in DNA inligting manifesteer as massiewe verskille op die fisieke vlak.  Dit kan ook vergelyk word met ‘n klein verandering aan ‘n woord of sin veroorsaak word in geskrewe taal.  So minimale verandering kan ‘n massiewe verskil in betekenis tot gevolg hê. DNA bring ‘n verdere groot probleem vir die ondersteuners van die evolusie teorie na vore.  Volgens die evolusie teorie het organisms van eenvoudig na kompleks ontwikkel.  Hierdie ontwikkeling noodsaak ‘n toename in die inligting wat in die DNA opgesluit is.  Wat het die toename in DNA inligting veroorsaak?  Die meganisme wat vir die veranderinge voorgestel word, naamlik mutasies, kon dit nie gedoen het nie.  Daar bestaan geen eksperimentele getuienis wat wys op ‘n toename in DNA inligting deur middle van mutasies nie.  Om die waarheid te sê, mutasies het in alle gevalle ‘n verlies van DNA inligting tot gevolg.  Dit is bo en behalwe vir die feit dat in by verre die meeste (alle) mutasies ‘n skadelike (selfs dodelike) effek op die betrokke organisme het wanneer dit voorkom.

Getuienis (eksperimente)

Wat van die eksperimente wat al oor die onderwerp gedoen is?  Dis tog die tweede maatstaf vir ‘n teorie.  Miskien bied eksperimentele getuienis beter ondersteuning vir die evolusieteorie as wat observasie doen.  Die enigste twee noemenswaardige uitsprake wat in die artikel gemaak word, verwys na die teel van mak diere en ‘n spesifieke eksperiment met vrugte vlieë.  Die teel van honde en duiwe kry spesifieke aandag.  Daar word gesê dat natuurlike seleksie op dieselfde manier werk en met die verloop van genoeg tyd die ontstaan van verskillende organismes tot gevolg gehad het.  Daar is ‘n paar punte van kritiek hier te lewer.  Eerstens sou al die variasie tussn spesies wat deur die selektiewe teel proses geskep is, relatief vinnig verdwyn indien die duiwe en/of honde toegelaat sou word om volgens hul eie keuse aan te teel.  Slegs deur die selektiewe teling voort te sit, bly die veranderings behoue.  Tweedens het hierdie tipe teling die inmenging van ‘n intellek nodig om te werk.  Natuurlike seleksie is ‘n blinde natuurkrag.  Daar is geen voorbeelde in die natuur waar ‘n blinde natuurkrag gelyktydig werklike orde en werklike kompleksiteit tot gevolg het nie.  Hierdie tipe kombinasie is altyd die gevolg van ‘n intellek.  Derdens moet daar onthou word dat die mense van Darwin se geslag gedink het dat die heelal ‘n oneindige hoeveelheid tyd oud is.  Moderne wetenskap werk met ‘n beperkte  hoeveelheid tyd.  Volgens hulle is die heelal ongeveer 15 biljoen jaar oud en die aarde veel jonger.  Selfs indien die meganisme van natuurlike seleksie sou werk, is daar eenvoudig net nie genoeg tyd beskikbaar vir die ontstaan van lewe en spesie-diversiteit soos dit vandag op aarde voorkom nie.  Statistici het al hierdie berekeninge gedoen en daarvolgens verdoemende uitsprake oor die haalbaarheid van die Darwinistiese evolusieteorie gemaak. Die tweede eksperiment waarna verwys word is ‘n poging waarvolgens die ontstaan van ‘n nuwe spesie bewys sou word. Dit is die beste waarmee die wetenskap in 150 jaar se magdom eksperimente vorendag kon kom.  Die woorde wat gebruik word is “Rice and Salt seem to have recorded a speciation event, or very nearly so…” (kursief deur vz bygevoeg). Klink nie na “deeply persuasive” of “overwhelming evidence” nie, maar eerder na tentatiewe uitslag wat nog baie ondersoek benodig.  Dit is duidelik dat die waargenome getuienis en die eksperimentele getuienis nie werklik sulke sterk ondersteuning vir evolusie bied as wat die outeurs probeer voorgee nie.  Die onomwonde antwoord op hul eie vraag – “NO”, is beslis te sterk.  Miskien sou “we don’t know yet, but it’s not looking good!” ‘n meer realistiese antwoord gewees het.

Gevolgtrekkings en afsluiting

Het die evolusieteorie soos in hierdie artikel vervat enige waarde?  Sonder twyfel lewer dit ‘n waardevolle, maar beperkte bydrae tot die verstaan van die wêreld om ons.  Om die evolusieteorie op dieselfde vlak as ander wetenskaplike teorië met BAIE sterker getuienis en bewyse te stel, is ‘n drogbeeld.  Daar word GEEN direkte bewys (deur observasie of eksperiment) gegee dat evolusie tussen spesies al ooit plaasgevind het nie. Die hele argument berus op afleidings en interpretasies wat gekleur is deur ‘n aanvaarding van die evolusieteorie voordat die getuienis ondersoek is. Die dogmatiese verdediging en aanhang van die evolusieteorie verhinder eerlike wetenskaplike ondersoek en dus ook wetenskaplike vordering.  Enige wetenskaplike wat dit waag om vorendag te kom met navorsing of gevolgtrekkings wat evolusie weerspreek, word nie maklik deur die groter (veral westerse) wetenskaplike gemeenskap aanvaar nie.  Daar is baie druk om “in te pas”, maak nie saak waarop die getuienis dui nie.  In hierdie geval is die onderdrukking van weersprekende kennis en ‘n dogmatiese verdediging van die huidige paradigma, nie vanuit die godsdienstige hoek nie. Dit is die wetenskaplike gemeenskap self wat sy eie geledere se monde snoer en vooruitgang verhinder.  Daar word soms gevra: ”watter alternatief vir evolusie word dan voorgestel?”  Huidiglik word geen alternatief geduld of ernstig ondersoek nie.  Dit beteken dat dit baie moeilik is om met ‘n geloofwaardige alternatief en ondersteunende getuienis voorendag te kom. Daar is uitdagings op biochemiese vlak, in die fossielrekord, in terme van inligtingsteorie en op vele ander velde.  Hierdie uitdagings sal ernstig ondersoek en aangespreek moet word indien evolusie se posisie as wetenskaplike teorie in die toekoms gaan verbeter. Dogma gaan nie help nie, mooi fotos gaan nie oortuig nie, sterk uitsparke sonder bewyse is onaanvaarbaar.  Waar is die oorgangspesies?  Hoe het DNA inligting vermeerder? Hoe word onreduseerbare kompleksiteit deur evolusie verklaar? Dit en vele ander ernstige vrae sal aangespreek moet word om by ‘n meer geloofwaardige antwoord uit te kom. Was Darwin verkeerd?  Daar is na ongeveer 150 jaar se navorsing geen direkte getuienis dat hy reg was nie. Geen werklike oorgangsfossiel nie, geen voorbeeld van evolusie nie, geen direkte bewys nie. Al die bewyse wat hy self gesê het sy teorie sou kelder (geen oorgangspesies, onverminderbare kompleksiteit) is gevind.  Dit is moeilik om te sien op watter manier, behalwe deur “blinde geloof”, sy teorie as “waar” aanvaar kan word.  Dit blyk dat die antwoord op die oorspronklike vraag wat in die artikel gevra is: “Was Darwin wrong?”, eerder “Yes, he probably was” as “NO” behoort te wees.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.