Help, my seun is ‘n ateïs

Hallo Udo

Ek en my man het onlangs verneem dat ons seun sy geloof verloor het. Dit het my baie ontstel en ek is nou baie onseker oor hoe om hom te hanteer. Natuurlik is ons lief vir hom en verwerp hom nie as persoon nie, maar ek weet nie hoe om hom te benader nie. Kan jy dalk help?

Vriendelike groete

Winkelsmidt

Hallo Winkelsmidt

Ek kan hoor dat jou seun se ‘geloofskrisis’ vir jou ‘n emosionele aangeleentheid is. Ek is egter bly om te hoor dat julle hom steeds as persoon aanvaar. Ek dink meer Christene moet besef dat ander mense nodig het om te voel dat hulle aanvaar word ten spyte van wat hulle glo of nie glo nie. Dis slegs wanneer mense regtig voel dat ons vir hulle omgee, sonder voorwaardes, dat ons kan hoop om ‘n invloed uit te oefen.

My raad sou dus wees om voort te gaan om steeds aan julle seun te wys dat julle hom aanvaar en liefhet. Ek dink nie dis nodig om hom te konfronteer oor wat hy glo as hy nie met julle daaroor wil praat nie. As hy egter wel gemaklik is om oor sy oortuigings te praat, dan hoef julle ook nie weg te skram of ook nie konfronterend te wees nie. Julle kan hom gerus eerder benader vanuit opregte belangstelling, m.a.w. probeer uitvind wat hy nou glo en selfs hoekom hy dit glo, maar moenie in ‘n debat daaroor betrokke raak nie, al voel dit of julle eie geloofsoortuiging daardeur bedreig word en julle julleself moet probeer verdedig. Die punt is om werklik belang te stel, sonder om ook terselfdertyd te voel dat jy teenspraak moet lewer op wat gesê word. Hierdie is iets wat min mense regkry. Ons luister nie regtig na ander nie, maar dink heeltyd aan wat ons volgende gaan sê of hoe ons moet antwoord!! Die feit is dat mense later baie meer oop is om op hul beurt weer na ons te luister wanneer hulle die gevoel gekry het dat ons eers bereid was om werklik na hulle te luister en werklik probeer het om hulle te verstaan.

Die probleem is dat ons as Christene nooit werklik geleer is om met mense wat anders dink en glo as ons, in gesprek te tree nie. Wat gewoonlik gebeur is dat ons ontsteld raak wanneer ander van ons verskil en dikwels kan ons nie op ‘n beredeneerde wyse ons saak stel nie, omdat ons nog nooit die vaardigheid aangeleer het om dit te doen nie. Hierdie vaardigheid om met ander mense oor geloofsake in gesprek te tree (bo en behalwe die basiese luistervaardighede wat elke mens behoort te hê) is waaroor die bediening gaan waarin ek betrokke is (die deftige term is Christelike apologetiek). Kyk gerus by www.antwoord.org.za om ‘n idee te kry as julle wil.

Ek dink nie julle hoef bang te wees vir wat julle seun mag sê as julle die slag werklik julle belangstelling in sy denke wil toon nie. Weet egter terselfdertyd dat julle baie waarskynlik nie gaan weet hoe om sy idees, vrae of twyfel te beantwoord nie. Maar onthou, dis nie wat hy nou nodig het nie – dis eerder belangrik om eers te luister en te probeer verstaan! Wat julle beslis nooit moet doen nie is om dinge te sê soos “Glo maar net,” of “’n Mens kan God nie verstaan nie,” of selfs “Wat belangrik is, is om tot bekering te kom”. Hierdie is natuurlik baie stereotipiese voorbeelde, maar die punt is dat dit goedkoop antwoorde is wat nie erns maak met denkende mense se dieper worsteling en vrae nie. Dit dryf sulke mense weg, eerder as wat dit Christenskap vir hulle aantreklik maak.

As julle met julle seun in gesprek is en julle raak bewus van dinge wat julle self laat wonder of twyfel, dan moet julle nie huiwer om met my te skakel nie! Onthou egter dat julle seun ‘n wil van sy eie het en dat niemand ‘n ander kan forseer om in gesprek te tree as hy nie regtig wil nie. Hou egter aan met bid dat die Heilige Gees sal aanhou werk in julle seun se lewe.

Beste groete
Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.