God se belangstelling in mense

Hierdie artikel is deel 10 van ‘n 11-deel gesprek – sien die volgende:

____________________________________________________________________

Winkelsmidt, jou laaste stelling is soos volg:

Daar is geen bewyse van enige bonatuurlike wese wat ‘n direkte invloed of belangstelling het met die mens op aarde.

Behalwe vir persoonlike ‘getuienis’ waar sekere gebeurtenisse toegeskryf word aan ‘n God of bonatuurlike wese, is daar geen bewyse dat dit die geval is. Die feit dat sekere gebeurtenisse ‘onwaarskynlik’ is, beteken nie dat dit ‘n wonderwerk is. Ek self het in die verlede sekere positiewe gebeurtenisse aan God toegeskryf, en negatiewe gevalle aan ’Sy wil en plan’ maar daar is geen bewyse dat daar enige ‘invloed of plan’ is van ‘n bonatuurlike wese. Dit is natuurlik glad nie endemies aan die Christelike geloof nie, en meeste ander gelowiges sal ook die positiewe en negatiewe aspekte van hulle lewe aan ‘n God toeskryf.

Persoonlike getuienis oor God se betrokkenheid is inderdaad subjektief. Ek stem ook saam dat nie alle onwaarskynlike gebeurtenisse summier aan God se voorsienigheid/betrokkenheid toegeskryf moet word nie. Maar gegewe die werklikheid van God se bestaan, moet ‘n mens ook nie summier ‘n spesifieke onwaarskynlike gebeurtenis as ‘n toevalligheid probeer weg verklaar nie. Verder dink ek dat daar ‘n goeie saak daarvoor te maak is dat iemand se subjektiewe ervaring nie ‘n struikelblok is om God se betrokkenheid in die wêreld te ervaar nie, maar juis ‘n voorvereiste. Kom ek verduidelik wat ek hiermee bedoel.

Dit is vir my redelik om te veronderstel dat as God bestaan en Hy, wanneer dit by mense kom, primêr geïnteresseerd is om in ‘n verhouding met mense te staan, dan is die manier waarop hy in ‘n spesifieke persoon se lewe werksaam is omdat daar ‘n verhouding bestaan, nie noodwendig toeganklik is vir die analises en nuuskierigheid van ander mense nie. In lyn met wat ek vroeër genoem het, dink ek dat God permanent verskuil bly vir die persoon wat maar net sy of haar intellektuele nuuskierig oor God se bestaan wil bevredig, maar nooit daarin geïnteresseerd sou wees om ook in ‘n verhouding met Hom te staan nie. Ek dink nogal die verhouding tussen ‘n glanspersoonlikheid en ‘n steelfotograaf is ‘n gepaste analogie. Die filmster weet byvoorbeeld dat die paparazzi eintlik net belangstel in die foto’s of storie wat van haar aan die dagblaaie verkoop kan word. Die filmster voel daarom geen verpligting of selfs behoefte om die fotograwe toe te laat om haar persoonlik te leer ken nie. Inteendeel, sy doen moeite om haar privaatheid te beskerm omdat sy weet dat daar nie regtig in haar as persoon belanggestel word nie.

Ek dink dat dit in ‘n groot mate dieselfde is met God: God se openbaring van Homself is op ‘n basiese manier daar vir almal om te sien (Romeine 1:19-21) – en te ontken – maar God se betrokkenheid kan dikwels slegs onderskei word (‘n subjektiewe ervaring) deur diegene wat werklik na Hom soek (Hebreërs 11:6).

(Let wel dat ek nie ontken dat daar iets soos selfmisleiding is nie, dat ‘n mens allerlei dinge en gebeure aan God kan toedig waarmee Hy niks te doen het nie. Ek ontken ook nie dat God in die lewens van mense wat ander godsdienste volg, werksaam is nie. Maar ek dink steeds dat Hy daar betrokke is slegs in die mate waarop iemand werklik opsoek is na Hom.)

Ook hier dink ek nie die Christelike wêreldbeskouing word enigsins bedreig deur die onvermoë van baie mense om God se persoonlike betrokkenheid in die wêreld, in die lewens van mense, te kan onderskei nie. Iemand se eie subjektiewe verhouding met God is ‘n integrale deel van hoe daardie persoon God se leiding en betrokkenheid ervaar.

________________________

Ek weet bogenoemde is ‘n mondvol, maar tree gerus met my in gesprek oor waar dinge nie vir jou sin maak nie. Soos ek aan die begin genoem het, ek stel werklik belang in waarom jy sekere idees verwerp. Maar miskien moet ons daarom ook op ‘n stadium bietjie gesels oor jou eie wêreldbeeld, die wêreldbeeld waaruit jy bepaalde idees van die Christelike wêreldbeeld verwerp. M.a.w. wat spesifiek glo jy oor die aard van die wêreld waarin jy woon, waar dit vandaan kom, wat ons doel op aarde is en hoe ons veronderstel is om te leef.

Ek sien uit om van jou te hoor.

Baie groete

Udo

“Those who believe they believe in God, but without passion in the heart, without anguish of mind, without uncertainty, without doubt and even at times without despair, believe only in the idea of God, and not in God himself.” (Madelein L’enge)

Lees verder:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.