God en lewe op aarde

Hierdie artikel is deel 2 van ‘n 11-deel gesprek – sien die volgende:

_____________________________________________________________________

Goed, Winkelsmidt, rakende jou eerste stelling:

Ons, en alles om ons op aarde het tot stand gekom deur die proses van evolusie oor miljoene jare.

  • Daar is genoeg bewyse vir evolusie op alle vlakke. Daar is fossiele wat bewyse gee dat ons, saam met diere en plante, deur die proses van evolusie verander het tot op die punt waar ons vandag is sonder die vereiste vir ‘n God of selfs ‘n ’Intelligent Designer’.

Uit hierdie stelling verstaan ek dat jy aanvoer dat omdat evolusie waar is, daar daarom geen rede is om “God” as ‘n verklaring aan te bied vir die bestaan van enigiets in die biologiese wêreld nie.

Eerstens wil ek met jou saamstem dat biologiese diversiteit oor miljarde jare op aarde tot stand gekom het. Die wetenskaplike getuienis in die fossielrekord gee ook ‘n oorweldigende aanduiding van ‘n toename in die verskyning van komplekse organismes oor tyd heen.

Let egter op die volgende: Indien evolusie wel op meganismes dui waarvolgens alle biologiese diversiteit verklaar kan word (en ek sal nou iets meer hieroor sê), vra dit steeds om verduideliking waarom evolusie hoegenaamd kon plaasvind. Die groot vraag is na hoe ‘n mens die fynbegrensde omstandighede verklaar waarbinne die prosesse van biologiese evolusie in die eerste plek sou kon plaasvind? Hierdie baie spesifieke omstandighede wat moes heers vir lewe om tot stand te kon kom en te floreer en ontwikkel tot by selfbewuste wesens soos homo sapiens (daar word in die wetenskap na die “anthropic principle” verwys), is, volgens kosmologiese navorsing, reeds baie vroeg in die heelal se ontvouing bepaal. M.a.w. al die natuurwette en ‘n klomp ander faktore het van die begin af (in die heelal se vroegste ontstaansgeskiedenis) baie spesifieke numeriese waardes (genoem kosmologiese konstantes) gehad. Indien hierdie waardes slegs effens verskil het van wat dit is, dan sou iets soos koolstofgebaseerde lewe (en spesifiek menslike lewe) later nêrens in die heelal moontlik gewees het nie. Die groot vraag is na wat die beste verduideliking is vir hierdie baie spesifieke kosmologiese waardes wat in verskeie aspekte van die heelal ontdek is. Is dit bloot per toeval so (soos wat filosofiese naturaliste ons wil laat glo), of is daar ‘n ander en beter verduideliking? ‘n Bekende Britse sterrekundige en ateïs, Sir Fred Hoyle, het lank terug die volgende gesê:

“Would you not say to yourself, ‘Some super-calculating intellect must have designed the properties of the carbon atom, otherwise the chance of my finding such an atom through the blind forces of nature would be utterly minuscule.’ Of course you would … A common sense interpretation of the facts suggests that a superintellect has monkeyed with physics, as well as with chemistry and biology, and that there are no blind forces worth speaking about in nature. The numbers one calculates from the facts seem to me so overwhelming as to put this conclusion almost beyond question.” (Fred Hoyle, “The Universe: Past and Present Reflections,” pp. 8-12 in Engineering and Science, November, 1981, esp. p. 12.)

My punt is dat ek geensins bedreig voel deur die oorgrote meerderheid van wetenskaplikes se oortuiging dat evolusie die beste metodologiese verklaring bied vir biologiese diversiteit op aarde nie (sien Wat is ‘n Christelike siening van evolusie?). Die bestaan van menslike lewe (en lewe in die algemeen) het egter steeds ‘n uiteindelike verklaring nodig ongeag of evolusie ‘n rol gespeel het in ons hierwees of nie. Ek het die vermoede dat jy dink dat Christene genoop is om Genesis 1 en 2 te verstaan as dat God direk en onbemiddeld verantwoordelik is vir die bestaan van alle lewensvorme in hulle huidige vorm. Dit is egter slegs een moontlike verstaan van wat die skrywer van Genesis 1 en 2 bedoel het, maar, gegewe verskeie faktore, dalk nie wat die skrywer se doel met die skeppingsverhaal was nie. (Hierdie saak is ‘n onderwerp op sy eie, maar as jy wil, dan kan ons later daaroor in gesprek tree. Intussen kan jy hier en hier kyk.)

Met dit alles gesê moet ek terselfdertyd erken dat ek tans grootliks agnosties is oor presies hoe biologiese diversiteit op aarde plaasgevind het. Vir my is dit ‘n baie geldige (en wetenskaplike) vraag oor of die evolusionêre prosesse van natuurlike seleksie en mutasie, werklik ‘n haalbare of volle verduideliking gee van hoe alle vorme van biologiese ontwikkeling, van die kleinste molekulêre eenhede tot organismes met komplekse biologiese strukture in geheel, plaasgevind het. Die hoofstroom wetenskaplikes meen dat dit wel doen. Ander wetenskaplikes probeer egter aandag vestig op die tekortkominge in sekere aspekte van die evolusieteorie en wys op data uit hoofstroom navorsing self wat bepaalde interpretasies in die paleontologie, biochemie en biogenetika in twyfel trek.

Oor die algemeen word kritiek verwelkom in die strewe na ‘n sterk gefundeerde wetenskaplike teorie. Ongelukkig het die evolusieteorie ‘n baie emosionele saak geword sodat enige wetenskaplikes wat Neo-Darwinisme in twyfel trek, summier met ‘n godsdienstige agenda geassosieer word en daarom met die hoogste agterdog (en in sommige gevalle selfs met die hoogste minagting) bejeën word. Hierdie emosionele klimaat wat dikwels in wetenskaplike redevoering heers wanneer evolusie ter sprake kom, is grootliks te wyte aan die spanning tussen twee baie sterk opponerende standpunte. Aan die een kant vind daar wetenskapbeoefening plaas wat onwrikbaar onderlê word deur die voorveronderstellings van ateïstiese naturalisme (dit word natuurlik heftig ontken dat wetenskaplikes deur hul voorveronderstellings beïnvloed word!). Aan die anderkant is daar die voorveronderstellings van ‘n ses-dag skeppingsleer (volgens Genesis 1 en 2) wat ‘n magdom hoofstroom wetenskaplike gevolgtrekkings in die kosmologie, geologie, paleontologie en biologie ontken.

Daar is egter terselfdertyd ‘n beduidende hoeveelheid wetenskaplikes (en nie-wetenskaplikes) wat nie by een van hierdie twee groeperings tuis voel nie (maar wat eweneens deur beide van bogenoemde groepe van verdagte motiewe beskuldig word!). Waarvoor hierdie wetenskaplikes en ander pleit is dat ons baie versigtig moet wees om allerlei wetenskaplike afleidings oor die kosmologie, geologie of biologie (of enige natuurwetenskaplike veld) vanuit ons lees van ‘n boek soos die Bybel te maak. Ons loop die gevaar om die Bybel dan te misbruik vir iets waarvoor dit nie bedoel is nie. Daar word terselfdertyd egter gemaan dat die wetenskap ook nie die enigste geldige metode is om betroubare kennis te bekom van die wêreld waarin ons leef nie (m.a.w. daar is ook die filosofie, etiek, estetika, geskiedkunde, ens.) Sommige wetenskaplikes maak egter aansprake waarvoor die wetenskaplike data beslis nie kan pa staan nie en misbruik ook dikwels ‘n metodiek waarvoor dit nie bevoeg is nie.

In samevatting: Ek dink nie die blote feit van evolusie (in watter mate dit ook al ‘n feit is) ondermyn die Christelike wêreldbeskouing dat God uiteindelik verantwoordelik is vir ons as mense se bestaan nie (sien weereens Wat is ‘n Christelike siening van evolusie?). Waar die heelal vandaan kom en hoekom die heelal spesifieke eienskappe openbaar, word egter na my mening beter verduidelik deur die bestaan van ‘n wese soos die teïstiese God, as deur kompeterende naturalistiese hipoteses.

NS: Hier wil egter ‘n baie beskeie nadruk plaas oor geloof in die bestaan van God. Ek dink dat dit volgens die beskikbare getuienis vir enige persoon redelik sou wees om te glo dat God bestaan (m.a.w. ‘n mens hoef nie jou intellek te ontken om in God te kan glo nie). Ek dink egter nie die getuienis hoef iemand te dwing om in God te glo voordat dit vir iemand redelik sou wees om wel sy bestaan te aanvaar nie. Ek dink daar is min dinge in die lewe waaroor ons bo alle twyfel sekerheid het, maar ons tree elke dag op volgens dit waarvan ons bo redelike twyfel oortuig is. Nou moet ek egter erken dat daar ‘n bykomende (en miskien deurslaggewende) faktor is vir hoekom ek, persoonlik, die eksterne getuienis oor die bestaan van God oortuigend vind. Dit het te make met my eie persoonlike verhouding met God. Hierdie is natuurlik ‘n baie subjektiewe ervaring en daarom bied ek dit geensins aan as ‘n rede vir hoekom iemand anders sou kon glo nie. Maar nietemin, hierdie verhoudingskomponent gee vir my eksistensiële sekerheid oor God (en daarom gaan dit in my eie persoonlike ervaring meer oor wie Hy is, as dat Hy is) wat sterker is as enige ander vorm van getuienis oor God. ‘n Analogie kan dalk iets help verduidelik van wat ek hier probeer sê. Veronderstel dat ek my vriende sou vra om my van getuienis te voorsien dat my vrou my liefhet deur slegs te verwys na wat sy al oor my of van my (in my afwesigheid) vir hulle of vir ander gesê het. Al gee hulle vir my uitstekende en in diepte getuienis van Ilse se liefde vir my volgens wat hulle al by haar persoonlik of by ander gehoor het, dra daardie getuienis nie naastenby soveel waarde as dit wat ek vanuit ons verhouding self weet oor haar liefde vir my nie. Dis ‘n baie subjektiewe ervaring in vergeleke met die getuienis van my vriende, maar bied my baie meer sekerheid as hul getuienis. Net so, lyk dit vir my, is dit met iemand se verhoudingservaring met God. Baie mense vind die getuienis vir God se bestaan onoortuigend, maar ek dink nie God is regtig besorg daaroor dat mense maar net van Hom weet, asof Hy onder verpligting sou staan om aan die mens net meer getuienis van sy bestaan te gee nie. Ek dink God wil eenvoudig hê dat ons Hom persoonlik sal ken (en dit begin beslis by ‘n stap van geloof) en dat die getuienis wat daar wel beskikbaar is vir sy bestaan, daarom voldoende sal wees (vanuit God se perspektief) vir diegene wat Hom ook regtig wil leer ken.

Lees verder:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.