Hoe belangrik is die opstanding?

(Hierdie is ʼn uittreksel van ʼn groter gesprek oor ook ander sake)

 

Udo,

Wat eerstens beklemtoon moet word is dat Jesus (aldus die Bybel self) nie opgestaan het uit die dood nie; Hy was op die beste opgewek. Daar kan dus nie geargumenteer of bely word dat Hy die dood oorwin het nie. Hy was, wat dit aanbetref, niks meer uitsonderlik as Lazarus of die drie wat Ezekiel glo opgewek het nie.

Tweedens moet die vraag gevra word hoe belangrik die opstanding is? Die essensie van die Christelike geloof lê nie in die opstanding/opwekking nie, maar die feit dat Jesus vir Christene gesterf het, nie waar nie? Dit bring mens by die volgende vraag. Gegewe die argument dat die sondeval vloek nooit bedoel kon wees om die ganse mensdom sondig te verklaar en hel toe te stuur nie, hoe relevant, of hoe nodig was dit dat Jesus moes sterf vir almal (nie-Jode) se sondelas? Ja, die Qur’an erken ook Jesus se opstanding, maar dit bevestig net my beskouing dat die verskillende Semitiese godsdienste eintlik maar almal een en die dieselfde storie vertel, net met ‘n paar klemverskuiwings.

Winkelsmidt

 

Winkelsmidt,

Oor die verhouding tussen opstanding en opwekking (wat soms as wisselterme gebruik word) kan jy hier lees. Die verskil is ook dat Lazarus en ander persone wat uit die dood opgewek is (meer iets soos ‘n resuscitation), weer gesterf het. Die opstanding (resurrection) verwys na ‘n nuwe (fisiese) opstandingsliggaam wat nie onderwerpe is aan die dood nie. Jesus was hiervolgens die eersteling van almal wat uit die dood sal opstaan (sien 1 Korintiërs 15:20-23). Jy hoef dit nie te glo nie, maar weet ten minste dat dit is hoe die Bybel volgens Christelike teologie dit uiteensit. (Sien ook hier.) 

Hoe belangrik is die opstanding? So belangrik dat as Jesus se opstanding nie plaasgevind het nie, dan was daar nie ‘n Christelike geloof nie. Dit klink of jy hier eenvoudig oningelig is oor die betekenis en belangrikheid van die opstanding. 1 Korintiërs 15 (veral verse 12-19) sou ‘n uitstekende plek wees om jou te vergewis oor die opstanding. (In hierdie verband, sien ook die volgende artikels: On the nature of the resurrection body en The Bodily Resurrection of Jesus)

Oor Jesus wat vir die ganse mensdom se sonde moes sterf: as jy glo dat jy nie skuldig is aan sondige neigings en optrede nie, wel, dan is jy nie ‘n sondaar nie en kon Jesus nie vir jou sonde sterf nie, want daar is nie sonde om voor te sterf nie. Ek dink egter die Bybel is akkuraat wanneer dit verduidelik na niemand sondeloos is nie (sien Romeine 3:9-20). Jy kan die teologiese waarheid verwerp dat Jesus ook vir jou versoening met God moontlik gemaak het, maar dis ten minste goed om ‘n akkurate begrip te vorm van wat die Nuwe Testament hieroor te sê het.

Terloops, Islam ontken geheel en al dat Jesus gekruisig is en ook dat hy uit die dood opgestaan het. Gegewe die belangrikheid van die kruisiging en opstanding  van Jesus vir Christene, is dit maar één voorbeeld wat jou aanspraak weerlê dat die Semitiese godsdienste maar net dieselfde storie vertel met ‘n paar klemverskuiwings. Dit kan nie verder van die waarheid wees nie.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.