Is God regtig Alwetend?

Hallo Udo

1. In die behandeling van die tema (sien “Gebed, God se Almag en God se Alwetendheid”) word, onder meer, gevra: ‘….hoekom sal God iets wil ‘verander’ waarby hy self betrokke is?’ Het God nie tog eers gepoog om mense na Hom toe te trek deur die seëninge van sy uitverkore volk nie, en eers toe dit nie die gewenste uitwerking het nie, besluit het om sy Seun te stuur nie? Selfs Jesus het aanvanklik gedink Hy is net na die Jode toe gestuur, sodat hulle, deur Hom, mense na God die Vader toe sou trek. Hoekom eeuelank die gebruik van brandoffers te laat voortgaan as dit uiteindelik blyk kragteloos te gewees het?

2. In die lig van God se alwetendheid kan ek ook nie God se droefheid peil wanneer sy volk ongehoorsaam aan Hom is nie.

Die onderwerp (en aangebode antwoorde) lê vir my te na aan predestinasie.

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Dankie vir jou skrywe. Ons waardeer dit as mense met ons in gesprek tree oor wat hulle op AntWoord se webwerf lees.

Ek dink ons sal saamstem dat God se alwetendheid ‘n moeilike konsep vir enige menslike verstand. Christene wat die Bybel ernstig opneem (en ook al oor die filosofiese aspekte rondom God se natuur nagedink het) is egter by regte om God se alwetendheid te erken.

Uit jou skrywe is dit egter nie vir my heeltemal duidelik hoe jy God se alwetendheid verstaan nie, selfs nie of jy dink dat God wél alwetend is nie. Jy noem vier voorbeelde wat, volgens jou interpretasie daarvan, God se alwetendheid in twyfel sou trek. Ek wil graag kortliks op elkeen reageer om te verduidelik waarom ek nie met jou interpretasie saamstem nie en dat dit daarom nie as voorbeelde dien wat God se alwetendheid ondermyn nie.

Voorbeeld 1:

Jy meen dat God “gepoog” het om mense na Hom toe te trek deur die seëninge van sy uitverkore volk en eers toe dit nie die gewenste uitwerking het nie, besluit het om sy Seun te stuur nie. Jy gebruik die woord “gepoog” om aan te dui dat God ‘n plan A gehad het en toe dit misluk het (iets wat Hy skynbaar nie kon voorsien nie), met ‘n plan B vorendag gekom het. Daar is twee redes waarom hierdie interpretasie vir my tekort skiet:

Eerstens is daar teologies geen rede om te dink dat God in sy bedoelinge gefaal het nie. Dit is baie redelik om te dink dat daar van die begin af net een plan was en dat die ontvouing daarvan presies was soos God dit bedoel het (volgens sy alwetendheid wat rekening hou met die vrye keuses van mense). Hy het dus nie “gepoog” om iets te doen nie, maar het opgetree met die volle wete van wat Sy aksies sou vermag en moes vermag.

Tweedens maak die interpretasie dat God se “Plan B” in die plek van Sy “Plan A” sou gekom het, nie sin nie. Dit is omdat “Plan A” en “Plan B” nie ten doel het om dieselfde resultaat te bewerkstellig nie. Jou “Plan A”, soos ek dink jy dit beskryf, is die feit dat God wil hê dat mense Hom moet ken, m.a.w. hy wil mense na Hom toe trek (en sover ek die evangelie verstaan het hierdie bedoeling van God nog nooit verander nie). Jou “Plan B” kan egter beskryf word as Jesus se kruisdood as versoening vir mense se sonde. Dit beteken dat God die moontlikheid vir die mens daargestel het om ‘n verhouding met Hom te kan hê (deur geloof in Jesus se dood as vergifnis vir sonde). Maar is Plan A en Plan B nie twee kante van dieselfde muntstuk nie en verteenwoordig dit dus nie inderwaarheid een plan nie? As God iemand nie na Hom trek nie, dan is daar nie die moontlikheid dat iemand God se genade kan aanvaar nie. Maar aan die anderkant, as God dit nie deur genade (Christus se soendood) moontlik gemaak het om in ‘n verhouding met Hom te tree nie, dan help dit nie dat God iemand na hom trek nie.

Voorbeeld 2:

Jy vra hoekom die gebruik van brandoffers eeue lank voortgegaan het as dit uiteindelik kragteloos blyk te gewees het. Brandoffers het ‘n baie spesifieke funksie gehad as deel van Israel se verhouding met God. Tog was brandoffers van die begin af kragteloos met betrekking tot God se uiteindelik plan om Sy Seun te stuur waarin Hyself te offer was vir ons onthalwe. Al die offers wat Israel moes bring, was op die ou end ‘n heenwyse na ‘n finale offer (Jesus se dood aan die kruis) wat by magte was om ‘n vergifnis vir sonde te bewerkstellig wat geen van die ander offers kon doen nie (lees gerus Hebreërs 9:10 – 10:39 vir ‘n verduideliking hiervan).

Voorbeeld 3:

Jy sê dat Jesus “aanvanklik” gedink het dat Hy net na die Jode toe gestuur is, sodat hulle, deur Hom, mense na God die Vader sou trek. Jesus was inderdaad net na die Jode gestuur om aan hulle te verkondig dat hy die een is waarvan hul profete vertel het en om die hardheid van hulle harte openbaar te maak. Maar tog was Jesus se kruisdood bedoel om as vergifnis vir alle mense se sonde te dien en nie net vir die Jode s’n nie. Daarom dat Jesus, ná sy kruising en opstanding, sy dissipels na alle nasies stuur om mense sy dissipels te maak (Matt 28:19). So ek sien geen rede om te dink dat Jesus “aanvanklik” iets gedink het wat toe later anders gebeur het nie, asof God van plan verander het nie.

Voorbeeld 4:

Jy wonder oor hoe die uitsprake oor God se droefheid verstaan kan word as God dan alwetend is. Ek sien egter geen rede waarom God nie ter wille van sy volk, op ‘n bepaalde moment te kenne kon gee dat Hy bedroef is oor hulle ongehoorsaamheid waarvan Hy reeds in Sy alwetendheid bewus was nie. Daar is vir my geen inherente probleem hier wat God se alwetendheid in twyfel trek nie. (Is daar miskien ‘n spesifieke skrifgedeelte waaraan jy dink wat problematies blyk te wees?)

Dit is dus nie uit een van hierdie voorbeelde vir my duidelik dat God inderwaarheid regtig ooit van plan verander het asof hy êrens verras was deur omstandighede of die vrye keuses van mense nie.

Ek hoor graag van jou.

Groete

Udo

 

Hallo Udo

Ja, ek erken my denke oor sake rakende God en sy omgang met die mens is maar wollerig, dikwels swak deurdag en onsamehangend. As gelowige, gewone kind van God wil ek egter deurentyd poog om my verstaan van Hom en sy natuur te verdiep, al voel dit soms soos ‘n getorring aan kwessies wat nie in die sentrum lê van dit wat werklik saak maak nie.

Ek wil net begin deur te verwys na dit wat jy Voorbeeld 1 noem en spesifiek paragraaf 3 daarvan waar staan: “Dit is omdat ‘Plan A’ en ‘Plan B’ nie ten doel het om dieselfde resultaat te bewerkstellig nie.” Met huiwering wil ek van jou verskil. As mens kan aanvaar dat God die mens geskep het met die doel om in ‘n liefdesverhouding met Hom te leef, dan wou A (plan met God se uitverkore Joodse volk) en B (plan met ingryping deur middel van Jesus Christus) beide daardie selfde resultaat bereik. Deur die persoonlike aanvaarding van Jesus se soendood vir ons bevryding is ons versoen met God en kan ons as verlostes in navolging van Jesus in die verlangde verhouding met God lewe, hoewel steeds gebrekkig. Ek stem saam dat die verdeling van God se verlossingsplan in kompartemente (stadiums) uiters kunsmatig en onbevredigend is, maar vir my help dit met die volgende:

Hoewel God self, by woorde van die Bybelskrywer, verklaar dat sy skepping goed is, is God se verwagtinge byna onmiddellik verydel en is God se toenemende teleurstelling van die begin af met sy ongehoorsame en weerspannige volk duidelik vir elke leser. Ek wil dit stel dat as mens konsekwent met taal omgaan daar slegs van teleurstelling gepraat kan word as sake minder goed uitwerk as wat bedoel en voorsien is, en dat hierdie toestand van teleurstelling nie vir my getuig van alwetendheid nie.

Dat die Bybel vir ons wil vertel dat God uit liefde van plan kan verander word vir my deels geïllustreer deur ten minste Abraham se onderhandeling met God oor Gamorra en die metaforiese verhaal van Jona.

As ek sake verkeerd vertolk wil ek graag reggehelp word. Indien jy alreeds volgens jou my voorbehoude genoegsaam aangespreek het dan is dit my begrip wat te kort skiet en vra ek jou om asseblief weer te probeer.

Net ‘n laaste nota: As ek in gedagte hou dat God bo tyd en ruimte verhewe is omdat Hy dit self geskep het en ek filosofies oor sake dink, dan wil ek glo dat Hy alwetend is (verlede, hede en toekoms ineen geteleskopeer as te ware) maar ek vind nie getuienis hiervoor in die Bybel nie.

Baie dankie.

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek dink die feit dat enigiemand denkend omgaan in hul verhouding met God lofwaardig is. Ek is oortuig dat die soeke na beter begrip (dikwels maar ‘n tydsame moeilike proses) nie anders kan as om tot versterking van ‘n mens se geloof te lei nie.

My uiteindelike punt met die verduideliking by voorbeeld 1 was bloot dat God se handeling om mense na homself te trek nêrens misluk het nie, inteendeel, dit het in volvoering gegaan met Jesus se soendood. Maar ek het wel ook probeer aandui dat om “mense te trek” en vir “Jesus om ‘n soendood te sterf” nie twee verskillende weergawes van dieselfde handeling is nie. M.a.w. hoewel daar verlossing uit die uitverkore Joodse volk gekom het, was dit tog nie die geval dat die uitverkore Joodse volk self die verlossing vir ander mense was nie. My gevolgtrekking was dat dit duidelik is dat God nog altyd net een plan gehad het en dit is dat Hy mense na hom wil trek sodat hulle verlos kan word.

Ek moet bieg dat ek steeds nie heeltemal verstaan waarom jy dink dat God se uitdrukking van frustrasie of teleurstelling op verskeie plekke in die Bybel moeilik versoenbaar is met sy alwetendheid nie. In my verstaan van sulke uitdrukking van God se frustrasie en teleurstelling met Sy volk (en bepaalde individue) is dat dit bloot kommentaar is op wat hy geweet het Sy volk (of bepaalde individue) sou doen, en nie ‘n aanduiding dat hy deur hulle optrede verras is omdat hy nie geweet het wat hulle sou doen nie. Miskien help die volgende analogie: Ek kan my gunsteling fliek weer en weer kyk, en steeds elke keer uitdrukking gee aan bepaalde emosies op spesifieke momente, selfs al weet ek presies hoe die hele storielyn verloop. Net so kan God bewus wees van die mens se ganse storielyn (en van hoe Sy wil uiteindelik geskied) en steeds sy ongelukkigheid uitspreek met hoe dinge op spesifieke momente verloop.

Ek dink dat wanneer ons lees van ‘n bepaalde interaksie tussen God en mense soos met Jona en Abraham, dan word die gebeure meestal vanuit hulle perspektief geskets, eerder as wat dit probeer aandui dat God inderwaarheid van plan verander het. Die skrywer probeer aantoon wat daardie persone oor God se hart in die proses geleer het (en per implikasie wat ons daaruit moet leer). M.a.w. ek dink nie regtig daar is rede om vanuit die skrywer se perspektief te verstaan dat as God sê dat Hy A sal doen as B gebeur, dit impliseer dat God nie geweet het of B inderwaarheid sou gebeur of nie. Dit is daarom nie God wat van plan verander het nie, maar die persoon wat stelselmatig beleef het wat God reeds geweet het die uiteinde gaan wees.

Daar word telkens in die Bybel menslike eienskappe aan God toegedig wat veral na vore kom in ‘n beskrywing van interaksie tussen God en mens (dink maar aan Genesis 3:8 waar Adam en Eva vir God in die tuin hoor wandel het asof Hy ‘n fisiese liggaam sou hê). Daarom is dit nie vir my vreemd om God se kommunikasie aan die mens vanuit ‘n menslike perspektief te sien gebeur nie.

Terloops, dit is ook nie dat God se alwetendheid net filosofies beredeneer word nie. Daar is baie gedeeltes in die skrif waaruit ons kan aflei dat God alwetend is (hier is slegs ‘n paar: Ps 139:1-5, Spr 5:21, 1 Joh 3:20, Matt 6:7-8, Jes 46:10-11).

Groete
Udo

 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.