Hoekom laat God slegte dinge toe om te gebeur?

deur Udo Karsten

Hierdie is ‘n baie belangrike vraag, want ‘n mens sou dink dat as God liefdevol en almagtig is, dan sal Hy alle slegte dinge wat in die wêreld gebeur, wil en kon keer.

Ek wil hier as antwoord fokus op net een aspek van hierdie vraag en dit is op die feit dat God die mens met ‘n baie spesifieke kenmerk geskape het en wat die implikasies daarvan is. God het die mens geskape met die vermoë om morele keuses te kan maak, m.a.w. die mens het die vermoë om tussen goed en sleg, en tussen reg en verkeerd te kan kies. Indien die mens nie so ‘n vermoë gehad het nie, dan sou ons nie van “mense” kon praat nie, maar miskien eerder van iets soos robotte wat vooraf geprogrammeer is om bepaalde dinge te doen. Dink daaraan: om in ‘n wêreld te leef waarin ons nie ‘n keuse het om iemand lief te hê nie, is ‘n wêreld waarin liefde nie bestaan nie (daar bestaan nie iets soos gedwonge liefde nie; liefde is per definisie iets wat ‘n mens vryelik gee, en daarom moet ons kan kies om lief te hê).

Die implikasie van hierdie vermoë om keuses te maak (m.a.w. vrye wil) is verder dat bepaalde keuses bepaalde gevolge het. As keuses nie gevolge gehad het nie, dan beteken dit eintlik dat ons keuses niksseggend is en in effek dat ons nie ‘n werklike keuse gehad het nie.

Hier is ‘n denkoefening om dit te illustreer: Gestel ek het die keuse om vanuit een van twee glase voor my te drink. Ek weet dat een glas water in het en dat die ander een gif in het (wat soos water proe en ruik), maar ek weet nie watter een is die suiwer water nie. Gestel verder dat ek ook weet dat as ek wel die gif sou drink, dan sal dit geen gevolge vir my inhou nie (dit sou wees asof ek die suiwer water gedrink het). Die vraag is nou: maak dit regtig saak uit watter glas ek drink? En as dit nie regtig saak maak nie, het ek dan werklik ‘n noemenswaardige keuse gehad om mee te begin?

Dit is vir hierdie rede dat die wêreld vol voorbeelde is van hoe mense dikwels onmenslik teenoor ander optree, mense wat slegte of verkeerde keuses maak wat bepaalde gevolge het. Ons is as wesens geskape wat (noemenswaardige!) keuses kan maak. Ons beleef dikwels die uitwerking van ander se slegte en verkeerde keuses, maar God laat dit in ons lewens toe omdat Hy daaroor besorg is dat ons werklik noemenswaardige keuses kan maak (God kan natuurlik wel soms kies om wonderbaarlik in te gryp, sodat die uitkoms van sekere keuses anders verloop, maar ons hoef nie God se goedheid in twyfel te trek wanneer dit nie gebeur nie).

Die punt is dit: ‘n wêreld waarin God heeltyd verhinder dat mense slegte keuses maak, of heeltyd die slegte gevolge van bepaalde keuses verhinder, is niks anders as ‘n wêreld waarin ons eintlik geen noemenswaardige keuses kan maak nie. In so ‘n wêreld is ons weer eens maar net robotte en nie werklik mense met vrye wil nie.

So, ‘n deel van die antwoord op hierdie vraag is dat God beide liefdevol en almagtig is, maar omdat hy wesens soos ons gemaak het wat keuses kan maak wat bepaalde gevolge inhou, laat Hy baie dinge in ons lewe toe sonder om direk daarmee in te meng. Dit beteken egter nie dat God afsydig teenoor ons of teenoor ons omstandighede staan nie.

Hier is wat ek weet wanneer God sekere dinge in my eie lewe toelaat wat my laat swaarkry en wat nie is soos wat ek gehoop het dit sal wees nie: Ek weet dat God die groter prentjie raaksien en dat Hy by magte is om sodoende selfs die sleg in my lewe te bewerkstellig tot ander of my eie voordeel (dis nie noodwendig tot my eie voordeel nie, maar iets wat met my gebeur is dalk iets wat die Here in iemand anders se lewe ten goede kan gebruik). Ten diepste vertrou ek die Here dat Hy nie iets in my lewe sal toelaat wat Hy my nie ook die krag gee om te kan hanteer nie. En selfs al maak ek nie staat op sy krag in daardie moeilike tye nie (vir watter rede ook al), weet ek verder dat hy steeds by my is, al kan of wil ek dit nie in daardie donker tye erken nie (ek praat nou as iemand wat vir baie jare met erge depressie geworstel het).

Hierdie vertroue is egter nie iets wat ‘n mens sommer net oornag opbou nie, maar is iets wat ‘n mens oor baie jare se ervaring met die Here en met die uitdagings van die lewe geleer het om te doen. Uit die aard van die saak is dit daarom baie moeilik om aan iemand anders wat deur ‘n moeilike tyd gaan te probeer verduidelik wat dit is om op die Here te vertrou as hulle dit nog nooit werklik in hulle eie lewe gedoen het nie.

Ek dink dit is een van die redes waarom ‘n mens veral moet leer om op die Here te vertrou wanneer dit goed gaan, want dan, as die sleg van die lewe kom, weet ‘n mens wat dit is om in ‘n vertrouensverhouding met die Here te leef. Dan is dit nie soos iemand wat net die Here se naam soos ‘n towerspreuk aanroep wanneer hulle in die moeilikheid is, maar in werklikheid geen verhouding met die Here het nie (dit wil natuurlik nie sê dat God nie dikwels ook sulke noodkrete hoor en verhoor nie).

Kyk gerus ook hier en hier vir nog perspektiewe oor die probleem van swaarkry en God se betrokkenheid in ons lewens.

2 Comments

  1. Dit is waar wat in die artikel staan. Ek gaan op die oombelik deur n baie moeilike tyd weens my vrou wat my gelos het. Ons al twee is nog baie lief vir mekaar, maar ons het vreeslik baklei oor kleinighede.Ons was besig om te skei, toe trek ek die skei saak terug. Sy het voorgestel dat ons net eers vriende moet wees. Dit is nou al ses weke sonder haar maar voel soos n leef tyd. Ek vertrou en bid elke oombelik by Jesus dat ons weer bymekaar sal uit kom.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.